NOORDWES. – Die DA en Lex Libertas het afsonderlik stappe teen Andile Mngxitama, MK-parlementslid, aangekondig ná sy uitlatings op sosiale media oor die aanval op boer Donovan Marx, waartydens hy geskiet, gesteek en albei sy ore afgesny is. Die DA gaan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) versoek om ’n ondersoek na ’n sedertdien verwyderde plasing op X te doen, terwyl Lex Libertas ’n formele etiekklag by die parlement ingedien het.
Desiree van der Walt, DA-woordvoerder oor landbou, sê die party gaan die nasionale voorsitter van die SAMRK skriftelik nader. Die DA meen die plasing, wat aan Mngxitama toegeskryf word, bevat rassistiese haatspraak en regverdig die verminking van ’n slagoffer in ’n plaasaanval. Mngxitama het na bewering geskryf dat die afsny van die boer se ore simbolies is omdat “gronddiewe” weier om te luister. Die DA sê sulke uitlatings kan haat aanwakker en tot verdere geweld lei.
Lex Libertas het intussen ’n formele etiekklag by die parlement se kantoor van die registrateur van lede se belange ingedien. Dr. Ernst Alex Roets, uitvoerende direkteur van die organisasie, sê die klag vra dat drie plasings van Mngxitama op X ondersoek word, onder meer sy opmerkings oor die afsny van Marx se ore en die woorde “No land no peace.”
Lex Libertas vra dat die parlement bepaal of Mngxitama se optrede die etiese gedragskode vir parlementslede oortree het. Indien ’n oortreding bewys word, vra die organisasie vir ernstige dissiplinêre stappe, waaronder ’n skorsing van minstens 30 sittingsdae, ’n boete, ’n formele berisping en ’n openbare verskoning en terugtrek van die opmerkings.
Die DA beklemtoon dat die Grondwet vryheid van spraak beskerm, maar nie ’n lisensie bied om geweld teen ander aan te hits nie. Lex Libertas sê sy klag handel oor Mngxitama se eie openbare uitlatings en beweer nie dat Marx se aanvallers politieke of rassistiese motiewe gehad het nie.