GAUTENG. – Dr. Malusi Gigaba is vandag as aangeklaagde deur die NVG se direktoraat vir ondersoek na korrupsie (Idac) by ’n bestaande beweerde korrupsiesaak teen voormalige Transnet-bestuurders gevoeg. Die staat beweer voorts dat Gigaba gedurende sy termyn as minister geld van lede van die Gupta-familie ontvang het. Gigaba is op 7 November gedagvaar om in die hof te verskyn en hy het ingestem.
Henry Mamothame, Idac-woordvoerder, sê in ‘n verklaring Gigaba het in die Palm Ridge- gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn, waar die saak vir dossieropenbaring en oorhandiging van die klagstaat en die bepaling van ‘n hofdatumoordrag na die hooggeregshof tot 30 Januarie 2026 uitgestel is. Ná die hofverskyning is sy saak saam met dié van die ander beskuldigdes gevoeg. Hy word saam met Anoj Singh, voormalige groephoof finansiële beampte, Brian Molefe, voormalige groephoof uitvoerende beampte, Siyabonga Gama. voormalige uitvoerende hoof, en Thamsanqa Jiyane, voormalige verkrygingshoof, aangekla.
Die klagtes spruit uit Transnet se proses om lokomotiewe aan te skaf. Volgens die staat is drie kontrakte vir 95, 100 en 1 064 lokomotiewe onreëlmatig toegeken, wat groot finansiële verliese vir Transnet veroorsaak het.
’n Bygewerkte klagstaat is aan al die beskuldigdes oorhandig.





