KWAZULU-NATAL. – ’n Verpleegster van Umkomaas aan die Suidkus het glo hulp gevra nadat sy vermoed het morfien word onwettig aan haar suster (30), ‘n voormalige verpleegster, voorsien. Sy het glo sonder sukses by die Suid-Afrikaanse Aptekersraad, die Kantoor vir Gesondheidstandaarde en die polisie aangeklop.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê die saak is by dié diens aangemeld nadat die verpleegster na bewering nie elders hulp kon kry nie. Volgens die verpleegster is haar suster onlangs weens ‘n morfienverslawing uit haar werk ontslaan. Die suster het kort daarna gesien hoe ‘n vrou, wat ‘n privaat kliniek in Amanzimtoti bedryf, glo pakkies by haar suster se huis aflewer. Die familie het ondersoek ingestel en verskeie botteltjies morfien in die suster se besit gevind. Nog 10 botteltjies is later op verskillende tye gevind.
Die familie beweer dat die medikasie onwettig deur die kliniek, sowat 23 kilometer van hul huis af, voorsien is. Die familie beweer glo verder dat die betrokke kliniek ook onwettige aborsies uitvoer en persone met middelafhanklikheid van medikasie voorsien. Volgens die inligting wat aan Rusa verskaf is, is die kliniekeienaar glo onlangs oor beweerde diefstal by ’n apteek in Winkelspruit ontslaan.
Die familie doen nou ’n beroep op instansies om die bewerings te ondersoek en om die voorsiening van morfien aan die voormalige verpleegster te stop.
Nuusflits het kommentaar van die onderskeie departemente gevra.
Die Suid-Afrikaanse Aptekersraad het bevestig die inligting word tans opgevolg.





