Marisa Combrink en Ronelle de Vries, susters, van wie een in Gauteng en een in die Wes-Kaap woon, deel hulle persoonlike verhaal oor hoe hulle bewus geword het van hulle genetiese risiko vir borskanker en die stappe wat hulle geneem het om hulle gesondheid te beskerm. Hulle storie beklemtoon die belangrikheid van genetiese toetse, vroeë opsporing en voorkomende mediese ingrypings.
Deur laboratoriumtoetse is afsonderlik bevestig hulle het albei die BRCA 2 borskankergeen. Het jy al ooit gewonder oor borskanker, wat vroue sowel as mans kan opdoen, wanneer ‘n familielid dit het of selfs daaraan sterf, of gelukkig genoeg is om dit te oorwin? Wel lees dan die twee susters se stories hier.
Familiegeskiedenis het ‘n groot rol in die susters se verhaal gespeel. Nadat hulle ma se suster, hulle tannie, op ‘n jong ouderdom met borskanker gediagnoseer is en gesterf het en hulle ma boonop op ‘n jong ouderdom ook met borskanker gediagnoseer is, het ‘n dokter voorkomende stappe voorgestel. Hy het voorgestel dat almal in direkte verwantskap aan die ma en suster ’n bloedtoets moet laat doen om te bepaal of hulle die BRCA2-geen mutasie het. Hierdie mutasie kan van geslag tot geslag oorgedra word en verhoog die risiko van borskanker aansienlik.
Die susters het hulle kinders in ag geneem en saam met raadgewers oor genetika by Ampath en die Femina-kliniek ingeligte besluite geneem. Hulle mans het die proses ten volle ondersteun en saam het die susters besluit dat voorkoming beter as genesing is. Deur hierdie voorsorgmaatreëls het hul risiko van borskanker van 80% na net 4% verminder, vergeleke met ’n gewone vrou se risiko van 9%.
Ronelle, ’n veearts van Robertson met drie jong dogtertjies, is 10 jaar jonger as Marisa en het reeds op 37-jarige ouderdom BRCA-positief getoets. Haar mastektomie is in Augustus van hierdie jaar gedoen. Marisa, geïnspireer deur haar jonger suster se optrede, het besluit om self voorsorg te tref. Omdat Ronelle reeds hierdeur is, was dit nie vir Marisa moeilik om te besluit waar sy haar prosedures gaan laat doen nie.
Sy het ’n voorkomende mastektomie en ovarektomie by Panorama-hospitaal in Kaapstad op 1 Oktober, in Borskankerbewustheidsmaand, laat doen. Haar voorbereidings het ’n reeks toetse ingesluit, soos MRI, ultraklank en mammogram, sowel as ’n spesiale Brandnode-prosedure om limfkliere te ondersoek. Gelukkig het die uitslae gewys dat sy heeltemal skoon is sonder enige kwaadaardigheid. 10% van die limfkliere is verwyder om dubbel seker te maak. Haar uterus het behoue gebly, maar die eierstokke en buise is verwyder, omdat die BRCA2-geen eerder met eierstokkanker as met baarmoederkanker geassosieer word.
Die susters beklemtoon dat baie mense nie bewus is van die BRCA-geen nie en dat kennis gedeel moet word. “Ons het hierdie stappe geneem vir ons kinders. Ek het al soveel mammas gesien wat te laat gediagnoseer is en aan borskanker beswyk het. Ovariële kanker word ook dikwels te laat ontdek, en die meeste gevalle is dan ongeneeslik,” het Marisa gesê. Marisa sterk tans by haar suster op ‘n plaas in Robertson aan en indien haar dokters oor twee weke instem, kan sy die pad na Pretoria met gemak aandurf.
Die susters se verhaal dien as ’n waarskuwing en inspirasie: genetiese toetse, bewustheid en vroegtydige mediese ingryping kan lewens red. Dit is ’n kragtige herinnering dat voorkoming beter is as genesing. Marisa deel glimlaggende foto’s met Nuusflits om te bewys mens lyk, soos wat sy dit stel, nie eers sleg ná die prosedure nie. Op die foto hier onder is albei susters saam met hulle ma, Ronelle saam met ‘n vriendin en Marisa saam met haar man, ‘n dag ná die prosedure.
Marisa noem dat hulle mediese fonds nie vir die BRACA-toetsing betaal het nie en dat dit so in die omgewing van R2 500 kos. Gedurende 2011 het sy R5 000 daarvoor betaal. Nadat die susters positief getoets het, is die meeste van hulle kostes wel gedek. Sy glo die kostes raak goedkoper hoe meer mense laat toets. Haar mediese fonds het ook wel vir die mastektomie en onmiddellike rekonstruksie betaal. “Dit is goedkoper vir ‘n mediese fonds om voorkomend op te tree as om vir kankerbehandeling te betaal.”
Dit gaan besonder goed met Marisa se seun, Luann, wat op 18 Augustus in Pretoria deur huisrowers oorval, aangerand en vir dood gelaat is. Haar hele gesin het haar met die prosedure vergesel en Luann, in sy happy place, gebruik die tyd deur vis te vang en beskryf die tyd op die plaas as terapeuties vir hulle almal. Sy sê voorts hulle is met ondersteuning deur die gemeenskap oorval en dit was ‘n baie goeie besluit vir hulle almal.









