GAUTENG. – Dit gaan goed met Luann (14) en sy gesin. Marisa Combrink, Luann se ma, sê in ‘n sosialemediaplasing daar word gereeld gevra hoe dit met hulle gaan. Luann wat op 18 Augustus, ná skool, die slagoffer van huisrowers was en vir dood in sy erf agtergelaat is, se wonde genees volgens haar mooi. Hy het wel Donderdag van hoofpyn gekla, maar is met vlieënde vaandels deur sy mediese toetse.
Meer as 30 steke se krammetjies is uit Luann se kop verwyder, waarna hy haarkapper toe is, waar sy hare gewas en gesny is om die geskeerde kolle minder opsigtelik gemaak. “Toe die dokter die vertrek binnekom, het hy vir Luann gevra of hy die beroemde ou is. Hy sê toe dat Luann meer beroemd is as wat hy dink. Ons vind toe ook uit dat die dokter die pa is van Luann se geskiedenisjuffrou by die skool. Hoe klein is die wêreld? My hart loop oor van dankbaarheid dat my kind geen ernstige skade oorgehou het nie. Alles net genade.”
Marisa het met sosialemediaplasings beklemtoon Luann vorder goed met berading. Die tienerseun het selfs te kenne gegee dat hy wil teruggaan skool toe en ook graag wil gaan visvang. Die foto van die voertuig wat tydens die rooftog gebruik is, is versprei in die hoop dat die opgespoor word. Die bakkie het wel vervalste nommerplate gehad, maar die linkervoorlig het ‘n los paneel en daar is opvallende plakkers aan die kant van die voertuig aangebring.
Luann se pa het in die Covid-tyd ‘n boomhuis vir sy kinders gebou en Marisa beskryf dit as die redding wat hulle jong seun in die krisistyd nodig gehad het, omdat dit direk met Hoërskool Overkruin verbind is. “Dankie vir al die ondersteuning met oproepe, geskenke, kos, blomme en boodskappe. Julle maak hierdie nagmerrie beslis makliker om te hanteer.” Marisa wou haar seun se skoolbaadjie droogskoonmakers toe neem en het op die sleutelhouers hier onder op foto’s, in sy sak afgekom.
Op die betrokke middag het Marisa haar dogter by die laerskool gaan haal. Luann het ná skool huis toe gestap en op die rowers in die huis afgekom. Hy het probeer wegkom, maar is verskeie kere van agter af met ‘n skerp voorwerp oor die kop geslaan. Hy het sy bewussyn verloor en is vir dood gelos. “Maar met die Here se genade het hy bygekom en gewag vir die regte oomblik om op te spring, te hardloop en oor die skool se muur, wat agter aan ons huis se erf grens, te spring. Mnr. Heinrich Enslin het hom gekry en aan hom die nodige hulp verleen.” Die onderwyser het Marisa dadelik telefonies ontbied.
Marisa vermoed die rowers het gevlug toe Luann nie meer was waar hy voorheen gelê het nie. Met Luann, wat baie bloedverlies ervaar het, is hy na Montana se ongevalle-afdeling gehaas waar hy ‘n nood CT-skandering ondergaan en meer as 30 krammetjies aangebring is om die snye in sy kop te heg. “Ek wil Montana-hospitaal se noodgevalle prys vir hulle vinnige optrede. Daarna is ons na ‘n ander hospitaal vir observasie, aangesien Montana-hospitaal nie op ons mediese plan se netwerk van hospitale is nie.” Die dokter het breinbloeding gesien, maar daar was geen skedelfrakture nie, daarom was die dokter nie bekommerd nie. Luann het buiten die snye en breinbloeding ook ‘n blou en toegeswelde oog en die ander oog is bloedbelope.
“Dit is oorweldigend hoeveel mense hulp en kos aangedra het. Dankie is ‘n klein woordjie. Mens besef in oomblikke soos dié dat daar geweldig baie mense is wat omgee. Die rowers het weggekom met heelwat elektroniese toestelle, horlosies van die kinders, klere, al Luann en my man se sportskoene, juwele, beddegoed en nog ander items wat ons seker so met tyd sal agterkom. Luann is gistermiddag ontslaan en sal vir die volgende week aansterk by die huis. Ek prys die Here dat my kind leef en is ongelooflik trots op hierdie dapper seun van ons.”
Marisa sê: “Goeiemôre FB vriende:
Ek kom agter met die hoeveelheid boodskappe wat ek ontvang, dat baie van julle wil weet hoe dit met ons as gesin gaan, maar in besonder met Luann. Luann doen regtig goed onder omstandighede. Sy wonde genees mooi en die staples sal eerskomende Donderdag verwyder word. Ons sien dan ook sommer Luann se gunstelinghaarkapper Michelle Oosthuizen Kuhn, wat sy afgeskeerde kol hare net minder opsigtelik gaan probeer kry. Hy praat van moontlik volgende week terug skool toe, alhoewel die berader voorgestel het om geen druk op hom te plaas in verband hiermee nie.
Luann is net heeltyd besig met planne om vis te wil gaan vang. Hy sê langs die viswater is waar hy die meeste ontspan met die rustigheid van die natuur. Ek het sommer ‘n naweek bespreek vir September by Rietvleidam en hy sien ongelooflik uit daarna.
Verder was Phillip en sy vrou van ProShield – Guarding Services en Petro van die GPF so ongelooflik ondersteunend. Petro het die aand van die gebeurtenis haar eie skoonmaakmiddels en emmers gebring om die misdaadtoneel in ons huis saam met Frano Combrinck, my man, op te ruim, terwyl ek met Luann nog by die hospitaal was. Die GPF en gemeenskap skenk vir ons ‘n gpf-radio en ‘n jaar gratis subskripsie.
Proshield Security is besig om vir ons ‘n fantastiese sekuriteitsisteem met alarms, kameras, panic buttons ens. te installeer en dit teen ‘n fraksie van die werklike prys. Regtig so ongelooflik hoe die tegnologie vandag werk en Lika reken as die skelms ooit weer dink om terug te kom, hulle defnitief gevang gaan word.
Dan laaste wil ek graag my fantastiese buurvrou Rozanne Maré dankie sê vir die ongelooflike beradingsessie wat jy vir ons gratis met jou baas Pieter van Shadowmatch gereël het. Dankie ook vir die pad wat jy verder met ons stap om die emosionele skade te herstel. Lief vir jou, buurvrou. Ons is oorweldig deur ‘n ongelooflike gemeenskap. Julle dra ons hierdeur en ons sal julle nooit kan bedank vir hierdie onbaatsugtige ondersteuning en bystand in een van die mees traumatiese oomblikke van ons lewe nie.
Die raad wat ek wil gee, is, wees paraat en sorg dat jy as gesin en nabye bure ‘n plan in plek het sou so iets ooit met julle gebeur. Elkeen van ons moet weet waarheen om te kan vlug. Luann se saving grace was sy boomhuis. Dit is vir jare sy default toegang om vinnig op die hokkie- en rugbyveld van (Overkruin) Ovie Nuus – Amptelik te kom waar hy so baie van sy tyd deurbring. Min het pappa geweet dat hierdie boomhuis wat hy in Covid-tyd vir ons kinders gebou het, Luann se lewe sou red ![]()
Mooi dag vir elkeen van julle.






