Brekende Nuus
Nuus

Bejaarde man dood in voertuig gevind

Foto: Google Maps

MPUMALANGA. – Die polisie ondersoek die dood van die 81-jarige Graham Young, wie se liggaam Dinsdag in ’n voertuig buite Tumbleweed Nurseries in Rivierstraat, Lydenburg, gevind is. Tekens toon dat hy moontlik vasgebind was.

Sers. Thulisile Magagula, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits Young is omstreeks 09:10 bewusteloos in die voertuig aangetref. Netcare 911-paramedici het hom dood verklaar. Magagula sê die polisie het kneusplekke aan Young se hande en moontlike tekens dat hy vasgebind is, waargeneem. ’n Stukkie kabelbinder is ook op die toneel gevind. Speurders, forensiese personeel en patologiedienste is na die toneel ontbied. Die liggaam is daarna na die Lydenburg-hospitaal geneem.

Die omstandighede van sy dood word ondersoek. ’n Nadoodse ondersoek sal bepaal of die geregtelike doodsondersoeksaak gewysig moet word.