Groot derby-naweek lewer top-wedstryde

Lees ook :

Groot derby-naweek lewer top wedstryde
Afrikaans Hoër Meisieskool en Afrikaans Hoër Seunskool pak hul Bloemfonteinse eweknieë in Pretoria in die 40ste Interskole derby.

Meisies-en seunsskole pak mekaar

Vier top skole in ons land het mekaar die afgelope naweek in Pretoria die stryd aangesê. Afrikaans Hoër Meisieskool (Pretoria) en Sekondêre Oranje Meisieskool (Bloemfontein) asook Afrikaans Hoër Seunskool (Pretoria) en Grey Kollege (Bloemfontein) het hul jaarlikse interskole-kompetisie van 14 – 16 Mei gehou.

40 Jaar van Interskole

Die afgelope naweek merk die veertigste jaar van hierdie interskole-kompetisie. Wat begin het as ‘n vriendskaplike sportfees in 1986 tussen die twee meisieskole, het ontwikkel tot ‘n skole-fees van sport en kultuur. Nagenoeg 3 000 hoërskool-leerders het hierdie naweek in Pretoria saamgekom. Op kultuurgebied was daar konserte en debatte. Sportsoorte waarin meegeding is, sluit netbal, hokkie, rugby, tennis, golf, muurbal, skaak, tafeltennis en fietsry in.

Affies netbal kraai koning

Affies het hul reputasie gestand gedoen as een van die top netbalskole in die land. Hulle het slegs 4 van die 28 wedstryde verloor. In die hoofwedstryd (o19A) klop Affies Oranje Meisies met 36-14.

Affies oorheers die netbal-wedstryde. Foto: Lulu’s Sport Pics

Oranje Meisies hokkie verhang die bordjies

Die meisies hokkie-wedstryde is op Affies en Pretoria High School for Girls se astrobane gespeel. Tussen die twee meisieskole oorheers Oranje meisies. Hulle wen 9 van hul 16 wedstryde. Diregente en skoliere-sang het gesorg vir ‘n besonderse atmosfeer tydens die eerstespan-wedstryd. Dit was ‘n stoomroller-wedstryd waarin Oranje meestal die bal gehad en uiteindelik met 3 – 0 gewen het.

Oranje Meisies domineer die meisiehokkie. Affies meisies keer verwoed by die doelhok. Foto: Lulu’s Sport Pics

Aanskoulike seuns-hokkie

Die seunskole het vir aanskoulike hokkie gesorg. Hierdie tweestryd was effe meer gebalanseerd met Affies wat 6 van die 14 wedstryde gewen en 3 gelykop gespeel het. Die dreunsang vanaf die paviljoen was dalk net wat die Witstokke (Affies se eerstespan) aangespoor het om uiteindelik met drie doele teenoor twee te wen. Goeie sportmangees en uitsonderlike vaardighede het vir ‘n pragwedstryd gesorg.

Teenstanders probeer beheer kry oor die bal in die seuns se hoof-hokkiewedstryd. Foto: Lulu’s Sport Pics.

Vlagskip-wedstryd maak geskiedenis

Alhoewel die derby sy oorsprong aan die meisiekant gehad het, het die o19A rugbywedstryd oor die jare die vlagskip en vertoonvenster van die naweek geword. Hierdie jaar het nie teleurgestel nie! ‘n Spanningvolle wedstryd waartydens die telbord deurentyd wipplank gery het, het in ‘n historiese oomblik geëindig op die Plaas (soos Affies se A-veld beskendstaan).

Affies se uithou-verdediging in die laaste paar minute van die wedstryd het verseker dat hulle uiteindelik met 28 punte teenoor 21 seëvier. Toeskouers het al drie minute voor die eindfluitjie op die veld begin saamdrom om hierdie mylpaal-oorwinning te vier. Binne sekondes ná die eindfluitjie was die veld met Affie-ondersteurs gepak. Dit is ‘n historiese gebeurtenis aangesien dit Affies se eerste sege oor Grey is sedert 2015! Uiteindelik verloor Affies slegs 4 van die 30 rugbywedstyde wat oor vyf velde gespeel is.

Affies se Witbulle maak geskiedenis deur hul rugbywedstryd met 28 punte teenoor 21 te wen. Foto: Lulu’s Sport Pics

Viering van sportmanskap

Die einde van die eerste rugbyspan-wedstryd is ‘n tentoonstelling van hoe groot skolesport in Suid-Afrika werklik is. Interskole reekse soos hierdie het ‘n spesiale atmosfeer wat sportmanskap bevorder. Die veertigste jaar van die Pretoria-Bloemfontein Interskole was voorwaar ‘n reuse-sukses en beloof om in die toekoms daarop voort te bou.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief