KWAZULU-NATAL. – ‘n Sogenaamde haarproduktefabriek is Dinsdagmiddag in ‘n huis in Somerset Place, in Farningham Ridge, Pinetown, ontdek. Hier is glo onwettige en nagemaakte produkte vervaardig.

Kol. Robert Netshiunda sê inligting oor ‘n vloeibak wat glo Sondag in Westmead gesteel is, is opgevolg. Die vloeibak is by die huis waar die haarprodukte vervaardig word, teruggekry. Tydens die voorlopige ondersoek is bevind die strepieskodes op die haarprodukte behoort aan ‘n ander produk van Noord-Amerika.
Twee buitelanders is in die plafon van die huis gekry en is gearresteer. Twee vroue, van wie een ‘n buitelander, is ook in hegtenis geneem.
Die huis waar die verdagte bedrywighede plaasvind, behoort aan ‘n buitelandse pastoor wat ‘n kerk in Umbilo het. Netshiunda sê voorts ‘n voertuig met foto’s van die pastoor, sy vrou en die haarprodukte, was in die erf parkeer. Kwitansies op die toneel het aangedui die haarprodukte is aan bekende groothandelaars, kleinhandelwinkels en haarsalonne, verkoop, wat meestal in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap geleë is.
Netshiunda het bevestig daar word na die huiseienaar gesoek, terwyl die res van die verdagtes vandag op aanklagte in die Pinetown-landdroshof voorkom.






