VSA. – Die Amerikaanse minister van verdediging, Pete Hegseth, het die weermag se stafhoof, Randy George, versoek om uit sy pos te tree, volgens CBS News.
Die Pentagon se hoofwoordvoerder, Sean Parnell, het in ’n verklaring op sosiale media gesê George “sal met onmiddellike ingang uit sy pos as die 41ste stafhoof van die weermag aftree”.
Die weermaghoof dien gewoonlik ’n termyn van vier jaar. George, wat aan die militêre akademie West Point gegradueer het, is in 2023 deur die voormalige president, Joe Biden, vir die pos benoem.
Die afdanking, wat vroeër deur CBS News berig is, is die jongste in meer as ’n dosyn ontslagte van topgeneraals en admiraals deur Hegseth sedert hy verlede jaar sy amp aanvaar het. Soos met baie van dié ander ontslagte, bied Pentagon-amptenare geen rede vir George se vertrek nie.
Dit kom bykans vyf weke ná die begin van Amerikaanse en Israeliese aanvalle op Iran, en sonder ’n duidelike tydlyn van president Donald Trump oor wanneer die oorlog kan eindig, hoewel hy in ’n toespraak aan Amerikaners gesê het die oorlog sal na verwagting “baie binnekort” tot ’n einde kom.
Bronne: CBS News, AP
Sgt. 1st Class Michael Sword





