OOS-KAAP. – ’n Gesamentlike operasie tussen die polisie en die weermag is van stapel gestuur om misdaad in dele van die Oos-Kaap hok te slaan. Altesaam 290 soldate is ontplooi om die polisie tot einde Maart 2027 te ondersteun.
Brig. Nobuntu Gantana sê die fokus sal wees op gebiede soos Gelvandale, Chetty en Kamesh in Nelson Mandelabaai, asook Humansdorp en Jeffreysbaai. Die operasie teiken onder meer dwelmhandel, onwettige vuurwapens, afpersing en onwettige aktiwiteite in die boubedryf. Volgens owerhede bly die polisie in beheer van die operasie, terwyl die weermag ondersteuning bied. Alle optrede sal binne die wet en met respek vir menseregte geskied.
Inwoners word aangemoedig om saam te werk met wetstoepassers en nie die reg in eie hande te neem nie. Dié operasie van die polisie en weermag begin op 3 April en duur tot 31 Maart 2027.





