OOS-LONDEN. – Die formele doodsondersoek na die Highgate Hotel-bloedbad van 1 Mei 1993, waartydens persone gewond en gedood is, begin Maandag, 27 Januarie, nadat die aangeleentheid deur die Kommissie vir Waarheid en Versoening na die NVG verwys is.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG, sê op die betrokke aand het gewapende verdagtes vir Stanley Hacking, Dauglas William Gates, Royce Michael Wheeler, Deon Wayne Harris en Deenric John Whitfield doodgeskiet, terwyl nog sewe slagoffers met permanente beserings en gestremdhede gelaat is.
“Dit sal tot 7 Februarie 2025 aan ‘n regter in die Spesiale Tribunaal-fasiliteit in Vincent, Oos-Londen, voorgelê word. Die geregtelike doodsondersoek volg op Barry Madolo, die Oos-Kaapse Direkteur van Openbare Vervolging (DOV), se besluit om te bepaal of iemand krimineel vir die aanval aanspreeklik gehou kan word.”
Tyali sê die kroeg van die hotel was ‘n bekende kuierplek vir lede van die polisie in Oos-Londen. Na die aanval het ‘n plaaslike koerant ‘n oproep van ene “Carl Zimbiri” van die Internal High Command of the Azanian People’s Liberation Army (APLA), die gewapende vleuel van die Pan Africanist Congress (PAC), ontvang. Hulle het verantwoordelikheid vir die aanval geëis, alhoewel dit nooit bewys kon word nie. Letlapa Mphahlele, die voormalige operasionele direkteur van APLA, het enige betrokkenheid by die aanval ontken. Drie slagoffers wat die aanval oorleef het en twee familielede van slagoffers het by die Kommissie vir Waarheid en Versoening se verhore getuig, maar geen amnestie-aansoeke is deur verdagtes gemaak nie.
Tyali sê dit is met spyt dat die saak van die bloedbad, in aanloop tot die 1994-verkiesings, en van belang in die politieke geskiedenis van die land, na dekades steeds nie opgelos is of vervolging plaasgevind het nie.
“Daar word gehoop dat die uitoefening van ‘n geregtelike doodsondersoek sal help om ‘n broodnodige afsluiting aan die families van die slagoffers en die publiek in die algemeen te verskaf.”





