Gedurende ‘n naweek van vreeslik min slaap en ‘n oorvloed sportgeleenthede, sit ‘n spesifieke een my aan die dink. Voormalige UFC-kampioen Petr Yan van Rusland veg teen ‘n jong, honger Song Yadong van China, nogal met die bynaam “The Kung Fu Kid”. Yan was op sy dag die mees gevreesde vegter in sy gewigsklas, rats soos ‘n kat en blitsvinnig met al sy wapens!
LEES MEER: Wedergeboorte van die arend
Weens ‘n reeks van ongelukkige gebeure het hy sy titel verloor, asook drie opvolgende gevegte daarna. En hier sit hulle hom teen ‘n sterk jong mannetjie wat ‘n naam uit hom wil maak.
In rondte 1 kon mens sien dat Yan baie huiwerig was, bietjie onseker van homself. Hy weet sy rug is teen die muur, en as hy hierdie een verloor, sak hy net nog dieper in daai donker put. Die “Kung Fu Kid” marsjeer voorkant toe met daai tipiese jeugdige selfvertroue en sit ongelooflike druk op die ou vegter. Yan het goed gedoen om die aanslag te oorleef, en tussen rondtes sien jy hy begin kry ‘n bietjie van sy selfvertroue terug. Rondte 2 gaan baie beter en Yan begin presteer, hy begin lyk amper soos die vegter van ouds. Die derde en laaste rondte sien ons ‘n man wat heeltemal getransformeer het in vergelyking met die een aan die begin. Yan glo weer in homself, hy’s weer die gevreesde vegter wat almal oorrompel met sy talent, wil en aggressie! Song Yadong oorleef net-net die klok wat die einde van die geveg aandui, met Yan wat hom in ‘n greep om die nek het en amper laat flou word.
Na die geveg dink ek bietjie na oor die sielkunde betrokke daarin. Die Yan van rondte 1 het dieselfde liggaam en dieselfde vaardighede as die Yan van rondte 3. Die enigste verskil was net wat hy van homself gedink het. Ek is oortuig daarvan dat as hy van die begin af die regte mentaliteit gehad het, hy die jong mannetjie stert tussen die bene sou huis toe stuur nog voordat die rondtes voltooi is.
Daar word gesê: “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy.”
Nou vra ek jou: Hoe bereken jy jouself in jou siel?
Hoe voel jy oor jouself, hoe praat jy oor jouself?
Ek is nou nie een wat glo in “Fake it until you make it” nie, maar tot ‘n sekere mate is daar tog waarheid daarin. As jy ‘n vreesagtige persoon is, en nie meer wil wees nie, begin spreek positiewe dinge oor jou lewe. “Ek is braaf. Ek is vreesloos!” Of hoe jy dit ookal wil bewoord. Bedink en spreek die dinge wat jy begeer, en neem die negatiewe gedagtes van vrees en twyfel gevange, en sien hoe jou lewe verander!
Want soos hy in sy siel bereken, so is hy…





