Hoërskool Oos-Moot – boelievoorval deur skool en onderwysdepartement afgehandel

Lees ook :

Foto: Skermgreep van video-opname @jaydondutoit TikTok en Juan Henning Facebook.

GAUTENG. – Hoërskool Oos-Moot in Villieria, Pretoria, het bevestig dat ’n dissiplinêre proses reeds afgehandel is, ná ’n voorval tussen twee leerlinge op die skoolterrein. ‘n Video van die voorval het op sosiale media versprei.

Volgens ‘n verklaring deur die skool was albei leerlinge ten tyde van die vooval minderjarig. Die saak is dieselfde dag by die dissiplinêre kantoor aangemeld en ’n ondersoek is ingestel. Ná afloop van die proses is dissiplinêre stappe ingevolge die bepalings van die Suid-Afrikaanse Skolewet en die skool se interne gedragskode geneem. Aanbevelings van die beheerliggaam is aan die departementshoof van die Gautengse onderwysdepartement voorgelê. Die skool handhaaf ‘n streng teen-boelie beleid.

Steve Mabona van die Gauteng-onderwysdepartement (GDE) bevestig aan Nuusflits dat ’n aansoek om skorsing ná ’n skuldigbevinding op ’n Skedule 2-oortreding by die kantoor van die departementshoof ingedien is. Hy sê die departement het ook die skool se hantering van die saak ondersoek en is tevrede dat die proses korrek gevolg is. Die departement het die voorval ten sterkste veroordeel en beklemtoon dat boeliegedrag nie geduld sal word nie. Volgens Mabona ontvang die betrokke leerlinge voortgesette ondersteuning deur ’n maatskaplike werker en berader.

Die departement is tans besig met ’n veldtog om skole bewus te maak van die risiko’s en regsimplikasies van die verspreiding van video’s van minderjariges op sosiale media.

Intussen sal ’n teen-boelie-bewusmakingsveldtog op 25 Februarie in die gebied plaasvind, in samewerking met onder meer die Villieria-polisie se maatskaplike misdaadvoorkomingseenheid, Tshwane-metropolisie en die nasionale sentrum vir kinderbeskerming. ‘n Interne program word van 23 tot 25 Februarie deur die skool aangebied, waar waardes soos respek, lojaliteit en gepaste gedrag beklemtoon word.

Die departement het aangedui dat geen verdere administratiewe stappe beplan word sodra die skoolproses afgehandel is nie, aangesien die vereiste prosedures reeds gevolg is.

Die video is deur @jaydondutoit op TikTok gedeel en verder deur Juan Henning op Facebook.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Oldest
Newest Most Voted
Inline Feedbacks
View all comments

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief