GAUTENG en LIMPOPO. – Planne vir ‘n hoëspoed-treinnetwerk wat Limpopo en Gauteng met mekaar sal verbind, gaan voort.
Ndavhe Ramakuela, woordvoerder vir Limpopo se provinsiale regering, en Vuyo Mhaga, woordvoerder vir die Gautengse provinsiale regering, sê in ‘n gesamentlike verklaring ‘n strategiese vergadering het Woensdag met dr. Phophi Ramathuba en Panyaza Lesufi, die onderskeie twee premiers, plaasgevind.
“’n Sleuteluitkoms van die vergadering was die goedkeuring van die implementeringsprotokoldokument deur beide die premiers, wat ’n belangrike mylpaal in die projek se ontwikkeling is. Die vergadering het ook die proses vir die nominasie en aanstelling van ‘n gesamentlike projekbestuurder begin. Daarbenewens het beide provinsies ingestem om gesamentlike konsultasies met die presidensie, ministerie van finansies, vervoer, samewerkende regering en tradisionele sake (COGTA), en handel, nywerheid en mededinging te hê, om inkoop vir die projek te verseker. ’n Politieke oorsigkomitee sal ook aangestel word om doeltreffende bestuur en toesig te verseker.”
Lesufi het samewerking beklemtoon om sodoende ‘n vervoernetwerk wat tot besighede en burgers se voordeel sal strek, tot stand te bring.
“Die hoëspoed-trein beloof aansienlike kommersiële en ekonomiese voordele, insluitend verminderde reistye, verbeterde handelsroetes en versnelde streeksontwikkeling. Dit sal beide Limpopo en Gauteng as deurslaggewende ekonomiese spilpunte posisioneer, wat moeitelose reis vir besighede, pendelaars en toeriste fasiliteer.”
Potensiële beleggings, nuwe markte en die groei van die ekonomie oor verskeie sektore word deur die instaatstelling van makliker reis tussen stede verwag. Vergaderings met meer rolspelers sal volg.





