Die tweede fase van die Aarto-stelsel het op 1 Julie 2026 soos beplan in werking getree nadat ‘n dringende hofaansoek om die proses te stop, onsuksesvol was. Die hofuitspraak op 30 Junie maak die pad oop vir die uitrol van die tweede fase van Aarto na 62 plaaslike en metromunisipaliteite.
Die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA) sê die Pretoria-hooggeregshof het die aansoek van die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regering (Salga) van die rol geskrap. Die hof het bevind Salga het nie voldoende redes aangevoer waarom die saak dringend was nie en kon ook nie bewys dat dit namens munisipaliteite mag optree nie. Salga het aangevoer dat daar nog onsekerheid bestaan oor die gereedheid van munisipaliteite, die nodige infrastruktuur en die finansiële gevolge van die nuwe stelsel. Die organisasie wou hê die implementering moes uitgestel word totdat dié kwessies opgelos is.
Die stelsel is reeds in Johannesburg en Tshwane in gebruik. Die RTIA sê hy bly daartoe verbind om die stelsel landwyd uit te brei en moedig motoriste aan om hulself van die Aarto-proses en die werking daarvan te vergewis.







