WES-KAAP. – Die hof in Worcester het twee beskuldigdes onderskeidelik 15 en 25 jaar tronkstraf opgelê vir die moord op een se vrou en een se lewensmaat, wat onder meer verbrand is.
Monica Daniels het op 12 Oktober 2022 gesterf toe haar lewensmaat, Ruiter Erasmus, haar tydens ‘n argument 16 keer met ‘n mes gesteek, die kamer aan die brand gesteek en daarna van die huis af weggestap het.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê die paar het by die huis in Shrikestraat, Avian Park in Worcester, baklei oor geld wat die oorledene se seun gevra het. Erasmus het doodluiters nadat hy haar gesteek en die vertrek aan die brand gesteek het, die deur toegemaak en weggeloop. Familie en vriende het die rook gesien en ondersoek ingestel. Daniels is op die toneel dood verklaar.
Erasmus het homself aan die polisie oorhandig. Hy het in die hof vir moord skuldig gepleit, waarna hy tot 25 jaar tronkstraf gevonnis is.
Amisha Ratanjie, die waarnemende streekhofaanklaer, het tydens strafverswaring getuig Erasmus was in ‘n vertrouensposisie en moes na die oorledene omsien en haar beskerm. Instede het hy brutaal, gewelddadig en gevoelloos opgetree.
“Ten spyte van die argument het die hof afgewyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf, aangesien die beskuldigde ‘n eerste oortreder was en nie die familie van die oorledene en die getuies deur ‘n uitgerekte verhoor gesit het nie.”
Tydens nog ‘n voorval het Valencia Samuels op 15 Januarie 2022 in Oktoberstraat, Roodewal, in Wocester gesterf nadat haar man, Richard Samuels, haar van ‘n buite-egtelike verhouding beskuldig het.
Ntabazalila sê Samuels het sy vrou voor hulle 14-jarige kind gekonfronteer en hulle het ‘n argument gehad. Hy het op haar geskree en gevloek, haar met petrol deurdrenk en haar aan die brand gesteek. Valencia Samuels het 10 dae later aan haar beserings in die hospitaal gesterf.
Samuels is aanvanklik vir poging tot moord in hegtenis geneem, maar die klagte is na moord verander. Slagofferimpakverklarings is deur Valencia Samuels se ma en beide haar kinders gemaak. Logan Pienaar het getuig wat hy die dag gesien het, alhoewel die beskuldigde hom gevra het om nie te getuig nie. Ratanjie het vir die beskuldigde gesê beide die kinders het aangedui dit is sommige dae so pynlik dat hulle aan selfdood dink.
Samuels het op aanklag van moord skuldig gepleit en is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Adv. Nicolette Bell, die direkteur van openbare vervolging in die provinsie, het die vonnisse verwelkom.





