GAUTENG. – Die Pretoria-Noord-landdroshof het sers. Fannie Ezekiel Nkosi (43), wat op verskeie ernstige aanklagte teregstaan, se aansoek om borgtog van die hand gewys. Nkosi bly in aanhouding. Die saak spruit uit ‘n polisie-ondersoek deur ‘n taakspan wat met die Madlanga-kommissie verband hou.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê die hof was nie oortuig dat Nkosi se vrylating in belang van geregtigheid sou wees nie. Hy word onder meer aangekla van die onwettige besit van springstof, versuim om vuurwapens en ammunisie veilig te bewaar, regsverydeling, diefstal en geldwassery. Beamptes het op 2 April ’n deursoekingslasbrief by Nkosi se huis in Pretoria-Noord uitgevoer nadat inligting oor onwettige ammunisie ontvang is. Tydens die deursoeking is verskeie vuurwapens, ammunisie, ’n skokgranaat, SAPD-saakdossiere en ander staatsitems op die perseel gevind. Meer as R50 000 kontant is ook onder ’n matras ontdek, en Nkosi kon glo nie die oorsprong daarvan verduidelik nie.
Borgtog is deur die staat teengestaan. Daar is aangevoer dat Nkosi moontlik kan vlug of met getuies en die ondersoek kan inmeng, veral gegewe sy kennis van polisieprosesse. Die hof het dié argumente aanvaar en borgtog geweier. Die saak is vir verdere ondersoek tot 21 Mei uitgestel.





