WES-KAAP. – Konst. Mpumelelo “Gift” Ncundwana, ‘n polisiebeampte en hofordonnans van George-landdroshof, is van korrupsie en dwelmhandel aangekla. Die konstabel het glo dwelms van die hof na die tronk gesmokkel.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die NVG, sê die beskuldigde is in ‘n lokval in besit van dwelms en kontant betrap. Die konstabel is in hegtenis geneem en word aangehou. Die die hof het Ncundwana se aansoek om borgtog geweier. Die saak is vir verdere ondersoek tot 20 Junie uitgestel. Volgens die staat is dwelms van die hof, met gevangenes as muile, gesmokkel. Dié beweerde bedrywighede was glo bestem vir georganiseerde misdaadfigure in die tronk. Dwelms, asook selfoonkommunikasie tussen ‘n gevangene en die beskuldigde, is ook in ‘n sel gekry.
Volgens Ntabazalila bly Ncundwana tot die volgende hofverskyning in aanhouding.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





