GAUTENG. – Matthews Sesoko, die hoof van die NVG-direktoraat se ondersoekeenheid teen korrupsie (IDAC), is glo Donderdagaand, terwyl hy op pad was huis toe, ontvoer. Sy aanvallers het hom aangerand en in die vroeë oggendure naby Rabie Ridge agtergelaat.
Henry Mamothame, NVG-woordvoerder, sê die verdagtes het met die hoof van ondersoeke en operasies se selfoon en skootrekenaar gevlug. Die slagoffer het daarin geslaag om hulp te kry en is na ’n nabygeleë polisiestasie geneem waar hy die voorval aangemeld het. Hy moes ná die voorval mediese behandeling ontvang.
Mamothame sê die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gaan nie oor die moontlike motief van die voorval en of dit moontlik met die hoof se werk verband hou, bespiegel nie. Die NVG sê egter die voorval en die tydsberekening daarvan beklemtoon die moontlike gevare in hierdie tipe ondersoekwerk. Die saak is vir ‘n strafregtelike ondersoek by die polisie aangemeld.





