OOS-KAAP. – Minstens 75 pasiënte het Vrydag by Taylor Bequest-hospitaal in Matatiele katarakoperasies ondergaan. Dit is deel van ’n spesiale veldtog om die provinsie se chirurgiese agterstand te verminder.
Volgens die provinsiale departement van gesondheid in die provinsie is die pasiënte afkomstig van die vier plaaslike munisipaliteite in die Alfred Nzo-distrik, asook van Mount Fletcher in die Joe Gqabi-distrik. Die Katarak-veldtog is ’n gesamentlike inisiatief van die Oos-Kaapse departement van gesondheid, die nasionale departement van gesondheid en die Suid-Afrikaanse nasionale raad vir blindes. Oogchirurge, teater- en oogheelkundige verpleegkundiges, optometriste en tegniese spanne is betrokke. Alfred Nzo-nooddienste het pasiënte na die hospitaal vervoer met die doel om nie net hul sig te verbeter nie, maar ook hul onafhanklikheid en lewensgehalte, veral van bejaarde pasiënte.
Die program duur tot 16 Augustus 2026.





