WES-KAAP. – Die Hugenotetonnel op die N1 is sedert Vrydagaand omstreeks 23:30 weens skade aan infrastruktuur vir verkeer gesluit toe ‘n bus in die tonnel aan die brand geslaan het. Motoriste word aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik, maar moet eers bevestig of hierdie roetes oop is en indien nie, ekstra reistyd inreken. Sanral raai ook aan dat reis waar moontlik uitgestel word.
Die roete Bellville na/van Touwsrivier, normale reistyd deur tonnel: 1 uur 45 min
- Du Toitskloofpas: +15 min. (konstruksie in dié tonnel is ook steeds aan die gang)
- Villiersdorp/Stellenbosch: +50 – 55 min.
- Grabouw/Somerset-Wes: +50 – 55 min.
- Bainskloof (slegs ligte voertuie): +45 min.
- Ceres/Tulbagh/Wellington: +45 min.
Die roete Swellendam – Bellville, normale reistyd deur tonnel: 2 uur 22 min.
- N2/Somerset-Wes: +15 min.
- Franschhoek: +35 min.
Mike Vinello-Lippert, Sanral se projekbestuurder, sê in ‘n verklaring: “Hierdie inspeksie sal die betonpad, sywande en tonnelplafon evalueer, sowel as die brandopsporings-, beligtings- en kommunikasie-infrastruktuur. Sanral bedank die tonneloperateurs en nooddienste vir hul vinnige en professionele reaksie. Die buswrak is reeds verwyder, maar as gevolg van die skade aan die tonnelinfrastruktuur sal die tonnel gesluit bly totdat ’n volledige strukturele inspeksie voltooi is.”
Al die insittendes kon betyds uit die bus gered word. Een tonnelpersoneellid het ligte rookinaseming opgedoen en is op die toneel behandel voordat hy vir waarneming na ’n hospitaal geneem is.
Die publiek sal op hoogte gehou word van die tonnel se operasionele status.