Altesaam 18 plaasaanvalle is gedurende September 2025 in Suid-Afrika aangemeld.
Niels Nilsson van die statisgroep SA vir landelike veiligheid het ‘n verslag van die aanvalle bekendgemaak. Die aangemelde aanvalle het op Rooiberg (Limpopo), Sterkrivier, Waterberg (Limpopo), Delmas (Mpumalanga), George (Wes-Kaap), Bloemspruit (Vrystaat), Greylingstad (Mpumalanga), Grahamstown/Makanda (Oos-Kaap), Klapmuts (Wes-Kaap), Plettenbergbaai (Wes-Kaap), Zastron (Vrysaat), Westonaria (Gauteng), Witbank (Mpumalanga), Lydenburg (Mpumalanga), Roossenekal (Mpumalanga), Chrissiesmeer (Mpumalanga), Kubusi (Oos-Kaap), Mooinooi (Noordwes) en Tuinplaas (Limpopo) plaasgevind.
In die meeste gevalle is geen sterftes aangemeld nie, maar twee van die aanvalle het tot moorde gelei. Verdere besonderhede oor hierdie voorvalle word steeds deur die betrokke owerhede en gemeenskapsveiligheidsgroepe opgevolg. Verskeie van hierdie voorvalle is reeds deur Nuusflits gedek.
Plaasbewoners, hetsy eienaars of huurders, word ernstig gemaan om waaksaam te bly. As jy iets hoor of sien wat vreemd of verdag lyk, moenie alleen gaan ondersoek instel nie. Skakel eerder ’n familielid, buurman of buurtwaglid om saam met jou te gaan, of kontak onmiddellik die polisie of jou plaaslike veiligheidsnetwerk. Persoonlike veiligheid moet altyd eerste kom. Eienaars van wettig geregistreerde vuurwapens word aangeraai om dit veilig te bêre en slegs in ooreenstemming met die wet te gebruik indien hulle lewens of dié van ander in onmiddellike gevaar is.
Enigiemand met inligting oor plaasaanvalle wat nog nie op die lys verskyn nie, word versoek om die inligting aan die samestellers of aan plaaslike veiligheidsinstellings te gee sodat die data volledig en akkuraat kan bly.






