OOS-KAAP. – ‘n Huiseienaar van Kwazakele het Maandag ter selfverdediging skote tydens ‘n huisrooftog geskiet en sodoende twee verdagtes beseer. Vier verdagtes is in hegtenis geneem.
Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê in ‘n verklaring vyf verdagtes het die klaer en sy vriendin oorval, wat omstreeks 21:20 in Prichardstraat, France parkeer het. Die verdagtes het glo met ‘n vuurwapen teen die voertuigvenster geslaan en selfone geëis. Hulle het die slagoffer aangerand en die huis ingedwing waar ‘n plundertog plaasgevind en ‘n plasma-TV, asook klere, gebuit is.
Die verdagtes is daarna na die hoofhuis en het die deur oopforseer, waarna die huiseienaar op hulle geskiet het. Alhoewel die verdagtes probeer vlug het, is twee beseer en is op die toneel deur die polisie in hegtenis geneem. Die polisie het op ‘n 9 mm-pistool beslag gelê. Die verdagtes is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.
Nog twee verdagtes is met behulp van ‘n wenk in besit van die gesteelde selfone in hegtenis geneem.
Die vier verdagtes, tussen 18 en 19 jaar oud, sal later hierdie week op aanklagte van huisroof en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, asook die vermoedelike besit van gesteelde eiendom, in die New Brighton-landdroshof verskyn.