GAUTENG. – Die Suid-Afrikaanse nasionale weermag (SANW) sê dit het met kommer kennis geneem van bewerings dat genl. Rudzani Maphwanya, die hoof van die SANW, uitdagend teenoor Angie Motshekga, die minister van verdediging en militêre veterane, optree. Hierdie aantygings is onwaar, misleidend en ignoreer die feite van die saak.
Prince Tshabalala, SANW-woordvoerder, sê in ‘n verklaring daar is ‘n wanvoorstelling van die feite van die saak, maar meen dit is nie in hul aard om administratiewe sake van hul lede in die openbare media te bespreek nie. Die insinuasie dat Maphwanya die minister “tart” of “minag”, word as ongegrond en onverantwoordelik beskryf.
In ooreenstemming met protokol is Maphwanya besig om met die minister en die ombudsman oor die saak te konsulteer. Die SANW bevestig behoorlike prosesse word gevolg.
Chris Hattingh van die Demokratiese Alliansie sê in verskeie verklarings dit is onaanvaarbaar dat Maphwanya tydens ’n besoek aan Teheran politieke verklarings buite sy mandaat gemaak het. Hy het Iran se standpunt oor Gasa ondersteun en vir samewerking soos met projekte en uitruil van studente gepleit. Die DA sê buitelandse beleid is die regering se taak en sal antwoorde van die ministers van verdediging en van internasionale betrekkinge eis oor sy optrede en die herstel van skade aan bondgenootskappe.
Die DA sê voorts Motshekga behoort ná haar beskerming van Maphwanya geskors te word. “President Ramaphosa moet optree om Suid-Afrika se grondwetlike orde en demokratiese waardes te beskerm.”
Druk hier om die volledige verklaring te lees.






