Huisrowers gevonnis wat gesin vasbind

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

NOORD-KAAP. – Rorisang Jack, Best Cumbuia en Mokone Motsoane is vir hul betrokkenheid by ‘n gewelddadige huisroof van die Bernardo-gesin in Port Nolloth, op 7 Desember 2022, in die Springbok-streekhof elk tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis.

Mojalefa Senokoatsane, streekwoordvoerder vir die NVG, sê die slagoffers, Paulo Bernardo, sy bejaarde ma en sy seun, was tuis toe sewe gewapende mans hulle oorval het. Bernardo is buite sy huis aangeval en met ‘n vuurwapen na ‘n nabygeleë kantoor gedwing. Drie van die verdagtes is by die huis in en het Bernardo se ma en seun gekonfronteer. Die slagoffers is vasgebind, waarna die seun onder dwang R125 000 aan ‘n bankrekening van een van die verdagtes oorbetaal het. Die verdagtes het altesaam R325 000 in kontant, buitelandse valuta en elektronika gesteel en die vasgebinde gesin agtergelaat. Met die vinnige optrede van Bernardo se vrou is ‘n minibus met die verdagtes later deur die polisie naby Springbok gestop. Vuurwapens, gesteelde goedere en 12 ongeslypte diamante is by hulle gevind. Twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem en ‘n derde is kort daarna gearresteer en aangekla.

Die drie beskuldigdes is aan roof met verswarende omstandighede en die besit van ongemagtigde vuurwapens skuldig bevind. Cumbuia is ook skuldig aan die oortreding van die immigrasiewet. Die vuurwapens en diamante is aan die staat verbeurd verklaar.

Ingevolge Artikel 280 van die Strafproseswet 51 van 1977 is beveel dat gedeeltes van die vonnisse gelyktydig uitgedien word. Elke beskuldigde sal gevolglik ‘n effektiewe tronkstraf van 20 jaar uitdien.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief