GAUTENG. – Die NVG se ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac) het die multimiljoenrand-korrupsiesaak teen die voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, en sy medebeskuldigdes, voorlopig teruggetrek. Die saak hou verband met ’n kontrak van net meer as R191 miljoen vir die verskaffing van noodwaarskuwingstoerusting aan die polisie in 2016.
Henry Mamothame, Idac-woordoerder, sê die waarnemende ondersoekdirekteur, adv. Ntuthuzelo Vanara, wil sekere aspekte van die saak verder bestudeer voordat dit weer op die hofrol geplaas word. Die saak is reeds deur die hersieningspaneel oorweeg, wat bevind het dat dit behoorlik gemagtig is en binne Idac se mandaat val. Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van korrupsie, bedrog, diefstal en geldwassery.
Volgens Idac is R65 miljoen aan die diensverskaffer, Instrumentation for Traffic Law Enforcement (Pty) Ltd, betaal, terwyl ’n verdere betaling van R22 miljoen tydens die ondersoek deur Idac voorkom is. Phahlane word saam met onder andere lt.genl. Bonang Mgwenya, Deliwe de Lange, Nombhuruza Lettie Napo, lt.genl. Ramahlapi Johannes Mokwena, genl. Ravichandran Pillay, kol. Thomas Dumas Marima en sers. Maetapese Joseph Mulaiwa aangekla. Die burgerlikes in die saak is Judy Rose, Samantha Andrews en Vimpie Manthata, die eienaar van Instrumentation for Traffic Law Enforcement (Pty) Ltd. ’n Vorige poging deur die beskuldigdes om die saak van die hofrol te laat verwyder, is deur die hof van die hand gewys.
Idac sê die voorlopige terugtrekking volg ná Vanara se besluit om sekere aspekte van die dossier te bestudeer voordat die saak weer ingeskryf word. Die terugtrekking moet dus nie as ’n finale beëindiging van die vervolging beskou word nie.