GAUTENG. – ‘n Vlieginstrukteur en ‘n leerlingvlieënier het Vrydagaand in Cullinan, oos van Pretoria, in ‘n vliegtuigongeluk gesterf. Die vliegtuig was bestem om by Wonderboom-lughawe te land.
Gregory Critchley van die Aeronautical Rescue Coordination Centre (ARCC) sê in ‘n verklaring dié diens is saam met nog rolspelers geaktiveer en ander is op bystand geplaas. Die vliegtuigwrak met die oorledenes is omstreeks 20:40 in ‘n soektog gevind.
Cullinan Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) sê in ‘n sosialemediaplasing die ligte vliegtuig het in kraglyne op ‘n wildplaas vasgevlieg. Eskom-tegnici wat die toneel vir reddingseenhede veilig gemaak het, is bedank.
AO Johan van Dyk sê die polisie is na ‘n noodlottige vliegongeluk op ‘n plaas in die area ontbied en het die vliegtuig met aankoms in vlamme aangetref.
“Voorlopige ondersoek dui aan die twee insittendes (vluginstrukteur en ‘n leerlingvlieënier) was op ‘n opleidingsvlug. Hulle het na bewering tegniese probleme ondervind nadat hulle in die Boschkop-omgewing opgestyg het en het in ‘n kragsubstasie vasgevlieg terwyl hulle probeer het om ‘n noodlanding te maak. Beide leerlingvlieënier en die instrukteur is op die toneel dood verklaar.”
‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen. Die ondersoek sal in samewerking met burgerlugvaartowerhede gedoen word om die oorsaak van die ongeluk te bepaal.
Nuusflits het van Sisa Majola van Acsa (Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika) gevra.







