‘n Verdagte (55) sal vanoggend 2 Junie 2023 in die Paarl-landdroshof verskyn na hy tydens ‘n gesamentlike operasie van die Valke en Interpol in hegtenis geneem is.
Kol. Katlego Mogale, woordvoerder vir die Valke, sê hy staan op ‘n rooi kennisgewing van Interpol tereg op aanklagte van rampokkery, bedrog, korrupsie en geldwassery.
Daar word berig dat klaers in sake teen hom gedurende 2020 van sy dienste gebruik gemaak het as prokureur sonder dat hulle bewus was dat hy reeds in 2016 geskors is om as prokureur te praktiseer.
Hy is in 2022 van die rol geskrap en was deur Namibiese owerhede gesoek.
‘n Arrestasiebevel en uitleweringskennisgewing is in 2022 deur die Paarl-landdroshof gemagtig.
Daar word verder beweer dat die verdagte die oorsaak is dat ‘n bedrag van meer as R3 miljoen in sy trustrekening inbetaal is en die klaer het ook ‘n verdere R280 000 in dieselfde bankrekening vir regdienste van die “prokureur” inbetaal.
Tydens sy inhegtenisneming is beslag op ‘n selfoon en skootrekenaar vir verder ondersoek gelê.