IRAN. – Die Iranse woordvoerder vir die ministerie van buitelandse sake, Esmaeil Baqaei, het gister Australië se bewerings dat Iran betrokke was by anti-Semitiese aanvalle in die land, verwerp.
Lees ook: Australië sê Iran het antisemitiese aanvalle op kafee en sinagoge gereël
Hy het gesê “die bewerings is absoluut ongeldig en die konsep van anti-Semitisme het geen plek in ons geloof nie. Dit is ’n konsep wat deur die Westerlinge uitgedink is en hulle moet hulself aanspreeklik hou vir hulle historiese rekord”.
Baqaei het ook Australië se besluit om die Iranse ambassadeur en nog drie beamptes uit die land te skors, gekritiseer en het gesê “enige onbehoorlike en onregverdige aksie op ’n diplomatieke vlak sal tot ’n teenmaatreël lei”.
Hy het gesê owerhede is besig om die situasie te beoordeel om die regte pad vorentoe te vind.
Anthony Albanese, Australië se eerste minister, het Iran beskuldig van ten minste twee anti-Semitiese aanvalle wat in die land gereël is en het aangekondig die Iranse ambassadeur en nog drie beamptes het sewe dae om die land te verlaat. Australië se ambassadeur in Tehran is ook onttrek.
Australië is ook van plan om die Islamic Revolutionary Guard Corps as ’n terreurorganisasie te bestempel.
Bronne: Global Times, Iran Front Page, Kurdistan24
Lees ook: Australië sê Iran het antisemitiese aanvalle op kafee en sinagoge gereël





