Lees ook: Nuwe Iranse president belowe moraliteitspolisie sal nie meer vrouens ‘pla’ nie
IRAN. – Die Iranse parlement het ‘n nuwe hijab-en-kuisheidwet goedgekeur wat vereis dat vroue deur streng reëls verplig moet word om ‘n hijab te dra.
Vroue kan boetes kry onder die nuwe wet as hulle nie in die openbaar of op sosiale media hijabs dra nie of hulle dra dit nie “behoorlik” nie. Boetes kan gelykstaande wees aan 20 maande se salaris, betaalbaar binne 10 dae. Vroue wat nie die boete betaal nie, kan toegang tot regeringsdienste, soos die hernuwing van paspoorte, bestuurslisensies en permitte om die land te verlaat, verloor.
Instansies moet CCTV-beeldmateriaal aan die polisie verskaf om vroue te identifiseer wat nie ‘n hijab dra nie. As die instansie nie saamwerk nie, kan dit boetes ontvang en mense afgedank word.
Enige advertensies of ontwerp van items wat “kaalheid” bevorder of die nie-dra van ‘n hijab toon, sal as ‘n misdaad beskou word.
Klerevervaardigers sal gemonitor word om seker te maak klere voldoen aan die hijab-en-kuisheidwet.
Die wet is geskryf tydens die vorige president se ampstermyn en die nuwe president, Masoud Pezeshkian, wat voorheen gesê het hy wil meer vryheid vir vroue hê, moet besluit of die wet geteken word.
Bronne: DW – South Africa, IranWire, UPI
Lees ook: Nuwe Iranse president belowe moraliteitspolisie sal nie meer vrouens ‘pla’ nie





