OOS-KAAP. – Die The Day Trippers van Uitenhage in die Oos-Kaap roem daarop dat hulle sedert hulle bestaansjaar nou reeds 58 jaar later steeds met al hulle oorspronklike lede aktief is.
Victor Hugo, Jannie Conradie, Pierre van der Westhuizen en Johan Williams het in 1996 as blote tieners tussen die ouderdom van 14 en 16 jaar die orkes gestig.
Nadat die groep gestig is, het hulle binne drie maande die Uitenhage-kompetisie Battle of the Bands gewen. ‘n Jaar later het hulle die PE Herald On The Go Show gewen. Hulle was boonop in die 1970’s genooi om op Robbeneiland op te tree, wat nie sommer vir enigeen beskore was nie. Die orkes het onder meer vir die Uitenhage-DBV en ander sake vir liefdadigheid opgetree en ook by die Rock the Hage-musiekfees opgetree.
Terwyl almal hulle eie potjies gekrap en regoor die wêreld versprei is, tree hulle steeds saam op wanneer hulle die geleentheid gegun word en wanneer hulle kan. Die orkes, wat steeds na soveel jare bestaan en saam optree, word as ‘n rekord beskou.
Van der Westhuizen, ‘n voormalige Muir Kollege-leerder, het in die IT-afdeling by Volkswagen gewerk en doen ook steeds vertonings op sy eie. Die ander drie orkeslede is voormalige leerders van Hoërskool Brandwag.
Williams het by Volkswagen gewerk en is nou met sy aftrede met liefdadigheidswerk vir bejaardes in die VK besig.
Conradie was ‘n plaaslike en internasionale vlieënier en is tans besig met sy eie projekte, wat musiek insluit.
Hugo was ‘n professor by die fakulteit van natuurwetenskap by die Universiteit van Stellenbosch. Hy was later die fakulteit se waarnemende dekaan en daarna die mede-dekaan van die fakulteit van toegepaste wetenskappe aan die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie. Na sy aftrede bestuur hy ‘n bed-en-ontbyt in Stellenbosch. Hugo se neef André van Eck, ‘n Engels-onderwyser, is die voormalige kitaarspeler vir die rockgroep Jack ‘n Jill. Van Eck wil graag in die toekoms as ‘n bykomende kitaarspeler saam met die groep en veral sy neef optree om hulle gedeelde liefde vir musiek te deel en herinneringe te maak.
Die groep se musiek is onder meer op dié van The Beatles en The Shadows geskoei.







