GAZA. – Die Israeliese verdedigingsminister, Israel Katz, het vandag in ’n verklaring gesê Israel gaan hulle militêre operasie in Gaza uitbrei en “groot dele” van die gebied oorneem.
Lees ook: Israel dood paramedici, burgerlike verdedigingspersoneel en VN-personeellid
Katz het gesê die plan is om “ontslae te raak van die terroriste in die gebied en om die terroriste se infrastruktuur te vernietig”. Hy het gesê die Palestynse burgerlikes moet ontruim en het hulle aangemoedig om ontslae te raak van Hamas en om die gyselaars terug te gee.
Israel het Gaza weer verlede maand begin aanval na Hamas geweier het om ’n Amerikaanse voorstel vir die skietstilstand te aanvaar en die res van die gyselaars vry te laat. Hamas beweer Israel het die oorspronklike ooreenkoms wat in Januarie aangegaan is, oortree. Egipte en Katar werk daaraan om die skietstilstand tussen Israel en Hamas weer aan die gang te kry. Hamas het hulle voorstel aanvaar, maar Israel het ’n teenvoorstel ingedien.
Egipte se voorstel is dat Hamas vyf gyselaars vrylaat in ruil vir ’n hernude skietstilstand.
Volgens hospitale in Khan Younis is sowat 17 mense oornag dood na Israeliese aanvalle op die suide van Gaza. Minstens 13 van die mense, insluitend vrouens en kinders, het in ’n residensiële gebou geskuil na hulle in Rafah haweloos gelaat is.
Bronne: BBC, CNN, The Irish Times
Lees ook: Israel dood paramedici, burgerlike verdedigingspersoneel en VN-personeellid
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected].





