Jetour Suid-Afrika het bevestig dat die goedgekeurde dravermoë van sy T1- en T2-modelle tot 475 kg verhoog is, insluitend die bestuurder.
Die bevestiging volg op openbare gesprekke oor die voertuie se oorspronklik gehomologeerde dravermoë van 300 kg.
Volgens Jetour Suid-Afrika het die maatskappy direk met Jetour se hoofkantoor en die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRCS) geskakel oor die goedgekeurde dravermoë van die modelle.
Die NRCS het volgens Jetour goedkeuring verleen dat die toepaslike Jetour T1– en Jetour T2-modelle ’n dravermoë van 475 kg mag hê.
Verhoogde dravermoë geld ook vir bestaande Jetour T1 en T2
Jetour sê die aangepaste dravermoë geld nie net vir nuwe voertuie nie.
Bestaande T1- en T2-voertuie wat reeds verkoop is en binne die modelreeks en spesifikasies van die NRCS-goedkeuring val, word ook deur die nuwe goedgekeurde dravermoë gedek.
Volgens Jetour is geen meganiese, strukturele of komponentveranderings aan die voertuie nodig voordat die verhoogde dravermoë toegepas kan word nie.
Die nuwe 475 kg-gradering geld dus vir die voertuie in hul bestaande meganiese en strukturele konfigurasie.
Dit beteken dat ’n bestaande Jetour T1 of T2 wat binne die omvang van die toepaslike NRCS-goedkeuring val, ’n goedgekeurde dravermoë van 475 kg het. Die bestuurder se gewig vorm deel van dié 475 kg.
Jetour skakel met lisensiëringsowerhede
Jetour Suid-Afrika sê hy is tans met die betrokke plaaslike lisensiëringsowerhede in gesprek oor die verhoogde dravermoë van voertuie wat reeds geregistreer en in gebruik is.
Eienaars sal volgens die maatskappy ingelig word sodra daar verdere ontwikkelings in dié proses is.
Jetour sê hy bly verbind tot die veiligheid van sy kliënte en om eienaars duidelikheid oor die goedgekeurde spesifikasies van hul voertuie te gee.
T-reeks is Jetour se avontuurmodelle
Die T-reeks is die deel van Jetour se plaaslike modelreeks wat op vermoë en avontuur gerig is, teenoor die meer stedelike Dashing en die gesinsgerigte X70 Plus.
Jetour het in September 2024 tot die Suid-Afrikaanse mark toegetree en het sedertdien sy modelreeks aansienlik uitgebrei. Die handelsmerk het vanjaar in April ook die T1 i-DM en T2 i-DM-inprophibriedmodelle plaaslik bekend gestel.
Meer inligting oor die modelle is op Jetour Suid-Afrika se webwerf beskikbaar.