Brekende Nuus
Nuus

Oudlede van veiligheidstak in hof oor moord op informant in 1991

Foto: NVG

MPUMALANGA. – Johan Petros Koekemoer (68), Ivor Wessel Conning Human (82) en Izak Johannes Engelbrecht (87), voormalige beamptes van die veiligheidstak, het vandag (Dinsdag) op ‘n aanklag van moord in die Nelspruit-landdroshof verskyn. Die staat beweer hulle was betrokke by die beplande moord op Andriano Louis Bambo, ’n Mosambiekse burger en informant van die veiligheidstak, wat op 5 Maart 1991 na bewering naby Matsulu vermoor is.

Monica Nyuswa, NVG-streekwoordvoerder, sê die drie is vanoggend op lasbriewe in hegtenis geneem en het later vandag in die hof verskyn. Die beskuldigdes was ten tyde van die beweerde moord onderskeidelik ’n luitenant-kolonel, brigadier en generaal.

Die hof het borgtog van R5 000 aan elkeen toegestaan, wat nie deur die staat teengestaan is nie, onder meer omdat hy die drie nie as ’n vlugrisiko beskou nie. Hulle moet hul paspoorte aan die ondersoekbeampte oorhandig en hom in kennis stel voordat hulle die land verlaat. Die saak is tot 23 Februarie 2027 uitgestel om ’n datum vir die hooggeregshof vas te stel en die saak daarheen oor te plaas.

Volgens die NVG is dit een van die uitstaande apartheidsera-sake wat met die werk van die waarheids-en-versoeningskommissie verband hou. Die saak is ook in die konteks van die Khampepe-kommissie se werk oorweeg.