Mel Viljoen eis dat voorraad ter waarde van miljoene rand terugbesorg word, of dat R24 miljoen betaal word, in ’n formele eis wat haar prokureurs aan Hantie Oosthuyzen gerig het. Die eis draai om Tammy Taylor Beauty se voorraad wat na die maatskappy se perseel in Benoni verskuif is.
Volgens ’n brief van Lazarus Joshua Attorneys, namens Tammy Taylor Beauty (Pty) Ltd, is daar ’n kwessie rondom miljoene rand se voorraad wat na die Benoni-perseel geskuif is.
Hoofkantoor van Pretoria na Benoni geskuif
Die brief beweer dat Oosthuyzen, nadat sy ’n 33%-aandeelhouding in die maatskappy verkry het, as direkteur en uitvoerende hoof aangestel is. Die hoofkantoor is daarna gedurende Desember 2024 en Januarie 2025 van Menlyn Woods in Pretoria na ’n perseel in Benoni verskuif.
Volgens die brief was die voorraad ongeveer R30 miljoen werd en verseker. Daar word beweer dat voorraad ter waarde van ongeveer R300 000 tussen Januarie en Maart 2025 verkoop is, terwyl sowat R6 miljoen se voorraad in Pretoria gehou sou word.
Mel Viljoen eis voorraad of R24 miljoen
Mel Viljoen se prokureurs beweer verder dat Viljoen later toegang tot die Benoni-perseel geweier is en nie die oorblywende voorraad kon terugkry nie.
Die prokureurs eis nou dat die oorblywende voorraad terugbesorg word, of dat R24 miljoen betaal word indien die voorraad nie meer in Oosthuyzen se besit is nie.
Die eis volg nadat pogings om die saak op te los volgens die brief nie suksesvol was nie.
Nuusflits het Oosthuyzen vir kommentaar genader. Sy het gesê sy sal die saak na haar prokureur verwys.
Die bewerings vorm deel van ’n formele eis en is nie op hierdie stadium as feite deur ’n hof bevestig nie.
Lees ook: Mel Viljoen ontvang SARS-kennisgewing terwyl uitspraak oor Peet se borgtog voorbehou word
Lees ook: Mel Viljoen werk nie meer saam nie – Bolhuis kanselleer ooreenkoms