Tydens die afgelope Saterdag se Kaapse skolejudotoernooi, het judokas van graad 1 en 2 eers halt geroep toe hul heldin op die Olimpiese program in die Champ-de-Mars-arena, Parys, Frankryk verskyn.
Geronay Michaela Whitebooi, (oor wie Nuusflits vroeër berig het) het Saterdag haar eerste geveg teen Jacqueline Solis van Argentinië gehad. Gelukkig het die organiseerders van die skoletoernooi voorsiening gemaak vir ‘n grootskerm sodat die kinders hulle helde in aksie kan sien.
Die outjies was omtrent opgewonde toe Michaela haar eerste geveg wen. Na die opgewondenheid het die toernooi voortgegaan en die kinders het met hernude passie mekaar op die mat aangedurf.
Ongelukkig moes Whitebooi die knie buig in haar tweede geveg teen die vierde gekeurde Japannese teenstander Natsumi Tsunado. Tsunado het ook voortgegaan en goud in hierdie onder 48 kg gewen.
Desnieteenstaande is daar darem ‘n silwer randjie aan die wolk: Whitebooi het die eerste judoka geword wat SA in twee Olimpiese siklusse verteenwoordig en ‘n eerste rondte gewen het.