Jong meisie op skoolbus vertel van haar ervaring

Lees ook :

Foto's: Verskaf

Enkele minute voor die ongeluk – video verskaf

VRYSTAAT. – ‘n Jong meisie, ‘n leerder van Hoërskool Riebeeckstad, wat gevra het om anoniem te bly, het aan NuusFlits vertel wat sy van die gru-busongeluk kan onthou. Ses gr. 8-leerders van die skool het Dinsdag in die ongeluk gesterf.

Die jong meisie was deel van ‘n groot groep meisies wat van ‘n sportfunksie by Moolmanshoek in die betrokke bus gery het. Die ongeluk het op die R70 gebeur en die beseerde meisies is na hospitale in Welkom en Senekal geneem. Nog vier meisies is ernstig beseer, agt het matige beserings opgedoen en 40 is lig beseer. Die anonieme meisie sê sy wil nooit weer met vervoer, wat nog te sê ‘n skoolbus, in haar lewe ry nie.

Daar is voorheen op Veldbrand Radio gesê die oorsaak van die ongeluk is ‘n wiel wat losgekom het.

Die meisie sê beslis aan NuusFlits sy wil nie weer teruggaan skool toe nie. Haar ouers sê sy huil haarself saans aan die slaap.

“Ek en nog vier ander meisies wou die Dinsdag op pad huis toe op ‘n ander bus klim, maar die busbestuurder het geweier en ons moes na die bus wat later in die ongeluk was teruggaan.

Sy voel hulle moes eerder met die ander bus gery het omdat ‘n voorste band van die bus waarop hulle was reeds die Maandag op pad na die kamp toe gebars het. Die jong meisie het in ‘n stemnota aan haar ouers toe die eerste voorste band Maandag gebars het, gesê hulle het ‘n slag gehoor en by die venster uitgekyk en die wiel wat in die helfte geskeur gelyk het daar sien lê. Sy het voorts vir haar ouers gesê hulle wag dat “iets” met die wiel gedoen moet word. In die stemnota sê sy duidelik “die ander wiel gaan ook nog skeur, hy is opgeblaas.”

Haar ouers het haar in ‘n stemnota geantwoord en gevra of daar ‘n spaarwiel is, waarop die antwoord in die opvolgstemnota “nee” is. Sy het ook vir hulle gesê sy dink die domkrag wat daar is, sal moontlik nie eers die bus kan oplig nie.

Volgens een van die ouers is daar ongelukkigheid oor die tye van aankoms by die kamp wat verskil. Daar is ‘n uur en half verskil in die tyd wat die onderwysers gesê het hulle is reeds op die kampterrein, terwyl die bus eers Maandag met leerlinge vertrek het. Dit kan op skermskote van WhatsApp gesien word. Volgens ‘n stemnota wat die dogter vir haar ma gestuur het, het die bus om 14:44, ná die episode met die gebarste band, na die kampterrein gery, terwyl ouers deur onderwysers om 14:30 laat weet is hulle is al ‘n uur en ‘n half op die kampterrein.

Die ouer het vir die dogter per stemnota laat weet die onderwysers sê hulle is al ‘n uur en ‘n half by die kamp, toe die meisie laat weet hulle ry weer kamp toe.

Die Dinsdag onderweg huis toe voordat die gru-ongeluk gebeur het, het die jong meisie ‘n selfoonvideo van hoe hulle op die bus ry aan haar een ouer gestuur met die doel om te laat weet dat hulle op pad is huis toe.

“Toe ons op die bus klim, het ons vir Meneer gesê die wiel lyk nie reg nie en hy het vir my en my vriendin gesê dit is niks. Ons was net voor die ongeluk gebeur het op pad na Henneman toe. Ons het agter in die bus gesit en was met my neef op my foon besig. Die wiel het van sy as af gekom, verder kan ek niks onthou nie. Wat ek weer kan onthou, is my ander vriendinne is uit die bus se wrak. Ek het gesukkel, want die bank het op my gelê. Toe ek buite die bus was, het ek net my vriendin, wat by die ander venster gesit het, gesoek en het my ma met ‘n stemnota van die ongeluk gesê.”

Die jong meisie sê haar vriendin het redelik ernstig seergekry.

“Na die ongeluk het ‘n dokter op Senekal my ondersoek. Ek het ‘n groot knop en blou kol op my kop gehad, maar is huis toe gestuur. Die dag na die ongeluk het ek nog seerder gehad en my een ouer het my na die suster toe gevat. Ek het nie ‘n mediese fonds nie en daar is net gesê ek is vol kneusplekke en my spiere is seer.”

Woensdag was die jong meisie onder die leerlinge wat berading by die skool ontvang het, maar haar ouer sê dit is baie nodig om haar vir nog berading te stuur.

Die meisie is vandag, omdat sy nog pyn het, weer terug vir mediese hulp. Daar is volgens haar ouer weer eens nie ‘n X-straal geneem nie, maar daar is gesê die dogter sal na ‘n sielkundige toe verwys word. Sy is weer net met pyntablette huis toe gestuur. Ongelukkig het die ouer nie die vermoë om die dogter na ‘n privaat hospitaal of dokter te neem nie.

Die dogter is bereid om met die ondersoekbeampte te gesels en ‘n verklaring te gee oor hoe sy die gebeure en ongeluk ervaar het. ‘n Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek nadat meisies tussen die ouderdom van 13 en 14 jaar oud gesterf het.

Brig. Motantsi Makhele sê 48 gr. 8-leerders, ses gr. 12-leerders en twee onderwysers, van wie een die bus bestuur het, was ten tyde van die ongeluk in die bus.

Alhoewel Senekal-polisie ‘n saak van strafbare manslag ondersoek, is dit volgens Makhele nog te vroeg om enigiemand verantwoordelik te hou totdat die ondersoek se uitslag so bewys.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief