GAUTENG. – Lara Scheepers (12) is Vrydagoggend vroeg (13 Maart) tydens ‘n huisroof op ‘n kleinhoewe in Laezonia, Centurion drie keer geskiet en in haar bene gewond. Sy moes ‘n operasie ondergaan om frakture in haar voet te herstel en koeëlfragmente te verwyder.
Kapt. Tintswalo Sibeko van die polisie se provinsiale kantoor in Gauteng het die voorval aan Nuusflits bevestig en sê ’n saak van huisroof is geregistreer. Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder van Tshwane-distrik, sê in ‘n verklaring die polisie ondersoek ’n saak van huisroof en poging tot moord ná die gewapende voorval. Volgens Van Dyk het die voorval omstreeks 02:00 plaasgevind toe die huiseienaar van vreemde geluide in die onderkant van die dubbelverdiepinghuis wakker geword het en ondertoe gegaan het om ondersoek in te stel. Hy het glo op ’n onbekende man in die huis afgekom wat ’n vuurwapen op hom gerig het. Kort daarna het hulle gehoor hoe hul 12-jarige dogter se kamerdeur oopgaan, gevolg deur twee skote.
Die verdagte het daarna met elektroniese toestelle gevlug wat uit die huis gesteel is. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie doen ’n beroep op die publiek om enige inligting wat tot ’n inhegtenisneming kan lei, by die Erasmia-polisiekantoor aan te meld.
Community Ermergency Response Team SA (CERT SA) sê in ‘n sosialemediaplasing dié nooddiens is na ‘n skietinsident in ‘n huis op ‘n kleinhoewe ontbied. Met aankoms is die meisie met drie skietwonde aan haar bene aangetref. Sy is gestabiliseer voordat sy na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer is.
Die Rekord berig drie verdagtes het die huis binnegedring waartydens die jong meisie geskiet is.
CERT bedank Netcare911,Emer-G-Med (Pty) Ltd,Gauteng Emergency Medical Services, South African Police Service Erasmia, SDS Protection en die Laezonia Sub Sektor Forum vir bystand op die toneel.
Bronne: CERT SA, SAPD en Rekord






