Jong sportster in ongeluk, sport opsy vir rehabilitasie

Lees ook :

Foto's: Carries - Fundraiser Page

Waarskuwing! Foto’s kan sommige lesers ontstel.

Carlin Pienaar, ‘n gr. 11-leerder van Hoërskool Paul Erasmus in Senekal, was Maandag 4 Maart met haar bromponie onderweg na ‘n hokkie-oefening toe ‘n ongeluk haar sport vir eers op die lange baan geskuif het.

Sy het hierdie week ‘n operasie aan haar vergruisde regtervoet ondergaan wat herbou moes word. Die dokter is volgens haar ma tevrede met die afloop van die operasie. Voor die operasie was die frakture in haar voet met gips gestabiliseer. Wondversorging is nou vir die dapper meisie baie belangrik om te keer dat sy nie infeksie opdoen nie.

In ‘n video van die ongeluk kan gesien word hoe Carlin, of Carries soos sy in sportkringe bekend staan, oor ‘n verkeersligkruising ry en toe deur ‘n Nissan-bakkie, wat reg voor haar indraai, getref word. Carries skiet deur die lug en kom anderkant die bakkie op die teeroppervlak te lande.

Haar linkerbeen moes steke kry en sy het boonop skaafmerke van die teer regoor haar lyf gehad. Maar veggees het sy baie en sy glimlag ten spyte van pyn uit die bed in die staatshospitaal in Betlehem. Carries is nie lid van ‘n mediese fonds nie. Haar ouers reis elke dag van Senekal na Bethlehem om haar te besoek en sy moet as deel van herstel fisioterapie in Betlehem kry.

Carries spog met verskeie sporttoekennings wat spreek van haar sportveelsydigheid. In 2022/2023 vorder sy die meeste punte vir atletiek vir verskeie items in wat haar die Junior Victrix Ludorum maak.

Met spiesgooi is sy deel van die Oos-Vrystaat o 16-meisiespan wat aan die Vrystaat-kampioenskappe deelneem.

Sy is in haar skool se eerste meisiehokkiespan en lid van die Oos-Vrystaat Platteland se Rhino-span. Hulle verwerf ‘n lang lys van toekennings soos die wenners van die Lejweleputswa-hokkieliga. Carries verwerf ook erekleure in die sport.

Sy is ook lid van die eerste meisiekrieketspan en hierdie o 16-span eindig derde in die SA-skoletoernooi. Sy is aangewys as die beste kolwer, beste bouler, beste meisiekrieketspeler en verwerf ook erekleure.

Maar dit is nie waar sport vir Carries eindig nie; sy is ook lid van die eerste meisietennisspan, die wenners in die Oos-Vrystaatse B-liga.

Die ongeluk gaan egter nie Carries se deelname aan sport beëindig nie, sy wil so gou sy kan weer op die sportveld wees.

https://www.backabuddy.co.za/campaign/hulpfonds-vir-carries?fbclid=IwAR2WZ60vVqAcDG_cWBjF-2QMeBSvYwtw22gE6v7ylG-eGkf-ZFssWnYoQEc

Bron: Carries – Fundraiser Page Facebook-blad

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief