WES-KAAP. – Die saak van die verdwyning van Joshlin Smith (6) is tot 16 September in die Vredenburg-landdroshof uitgestel.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG in die provinsie, sê aan Nuusflits die uitstel is op versoek van die staat vir verdere ondersoek. ‘n Forensiese verslag is uitstaande en die polisie is besig met die data-analise. Die hof het die uitstelversoek toegestaan.
Ntabazalila sê die staat sal op 16 September ‘n brief aan die hof oorhandig vir die oorplasing van die saak na die hooggeregshof.
“Met die volgende hofverskyning op 16 September sal die beskuldigdes ‘n klagstaat opgelê word en die saak sal na die hooggeregshof oorgeplaas word.”
Ntabazalila sê die saak en die klagstaat sal saam na die hooggeregshof oorgeplaas word.
Smith het op 19 Februarie uit die kusdorp van Saldanhabaai vermis geraak en soektogte om die kind op te spoor, wat internasionaal gestrek het, het tot op hede niks opgelewer nie. Sy is glo vir R20 000 verkoop. Haar ma, wat een van die beskuldigdes is wat in die hof verskyn, het vandag hoogswanger gelyk.
Racquel Chantel Smith (Kelly) (33), Jacquen Rowhan Appolis (31), Steveno Dumaixio Duwayne van Rhyn (27) en Lourentzia “Renz” Lombaard (32) het almal hulle borgaansoeke laat vaar. Hulle staan op aanklagte van mensehandel vir die doeleindes van uitbuiting en ontvoering tereg.
Lt.kol. Malcolm Pojie het in Junie aan Nuusflits bevestig die trui wat deur gemeenskapslede gevind is, is deur forensiese deskundiges in ontvangs geneem en sal ontleed word.
Intussen word daar steeds na Joshlin Smith gesoek.


Foto’s: Eric Ntabazalila NVG

