WES-KAAP. – JP Smith en Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelede, se kantore is Vrydag deur die polisie deursoek.
Die Stad Kaapstad sê op sosiale media Geordin Hill-Lewis, die burgemeester van Kaapstad, het ‘n dringende inligtingsessie met die SAPD versoek: “Ek neem kennis van die klopjag deur owerhede by die kantore van burgemeesterskomiteelede, raadslede JP Smith en Xanthea Limberg, wat my meegedeel het dat hulle volle samewerking aan die SAPD gebied het, maar nie in hierdie stadium bewus gemaak is van die spesifieke bewerings nie. Ek het ‘n dringende inligtingsessie met die SAPD versoek om die besonderhede van hierdie saak te verstaan en sal op die nodige verdere optrede besluit sodra dit ontvang is.”
Tertius Simmers en Geordin Hill-Lewis sê in ‘n DA-verklaring daar word van die klopjag kennis geneem en sê inligting is beperk en daarom word feite en konteks en ondersoekinligting afgewag, voordat ‘n volledige verklaring gemaak sal word.
“Ons is egter bewus daarvan dat geen arrestasies gemaak is nie. Ons sal die situasie fyn dophou en wag vir verdere verwikkelinge.”
Rdl. JP Smith het ‘n verklaring vrygestel, wat hier gelees kan word. Rdl. Xanthea Limberg het tot dusver nie ‘n verklaring op sosiale media gemaak nie. Smith het in die verklaring gesê hierdie is ‘n politieke smeerveldtog, waarvan hy reeds maande gelede ingelig is. Hy sê voorts daar is stemopnames wat onetiese en onwettige gedrag voorstel. Smith het klagtes teen een van die raadslede, wat in sommige opnames geïdentifiseer is, by die Federal Legal Commission (FLC) van die Demokratiese Alliansie aanhangig gemaak.
Smith het regsadvies ingewin en verseker die inwoners van Kaapstad dat hy werk om sy naam in ere te herstel.
Nuusflits het die polisie vir kommentaar gevra.





