“Jy moet jou kop reg kry”- Rochelle

Lees ook :

Om haar doelgewig te bereik en ‘n gesonder en meer energieke leefstyl te handhaaf. Dít is sommige van die redes waarom Rochelle Lotriet (29) vir die volgende drie maande aan Jolene Herselman, se Weight date with Jo, gaan deelneem.

Jolene is ‘n persoonlike afrigter wat vir FiND iT drie van haar kliënte gekies het om aan dié drie maande se transformasie deel te neem.

In die tyd oefen die drie kliënte by Jolene. Hulle hou FiND iT se lesers ook op hoogte van hulle vordering.

Rochelle sê sy het besluit om die uitdaging aan te pak omdat sy in geheel gesonder wil wees.
In die afgelope vier weke het sy reeds 8.2 kg verloor. “Ek het lanklaas so goed gevoel as na ‘n oefensessie.”

Agtergrond

Rochelle het in die Diamantstad groot geword. Kort na matriek het sy na Bloemfontein verhuis. Hier het sy haar man ontmoet, verloof geraak en getrou. In 2012 het sy swanger geraak en op 6 Julie 2013 het hulle ‘n dogtertjie ryker geword.

Rochelle vertel sy het tydens haar swangerskap 30 kg opgetel . “Ek het daarna nog niks van die gewig wat ek opgetel het, verloor nie!”
Die egpaar het in 2017 weer teruggetrek Kimberley toe en dit is toe wat sy besluit het dat sy iets omtrent haar gewig wil doen.

Nadat Rochelle ongemaklik en ongelukkig in haar eie lyf begin voel het, het sy besluit dis tyd vir ’n verandering.

Sy het dadelik ‘n plek begin soek om te oefen en van Jolene gehoor. “Na die eerste oefenklas by haar, kon ek skaars loop. Ek het besef sy doen iets reg want ek het op plekke seer gehad waar ek nie geweet het ek seer kan hê nie!” lag sy.

Hoekom deelneem?

Rochelle vertel dit is gewoonlik ‘n uitdaging om met ‘n dieet- of ‘n oefenplan vol te hou.

Sy het reeds vier weke by Jolene geoefen toe sy genader is om aan die 12 weke uitdaging deel te neem. “Ek het besluit om deel te neem . As ek onder druk is, sou ek 100% kon gee en nie moed opgee nie. ”

Rochelle geniet dit baie meer as wat sy gedink het.

Struikelblokke

Naweke is beslis vir Rochelle ‘n uitdaging. “Deur die week is ek by die werk, so dit is vir my makliker. Naweke is ek by die huis, en word maklik in die versoeking gelei. Dus moet ek twee keer harder probeer oor naweke.”

Motivering

Rochelle se grootste motivering is dat sy graag gesonder wil lewe en die oortollige gewig wil afskud.

“Jolene, my afrigter, is regtig ‘n groot inspirasie vir my. Ek kan sien dit is haar passie en sy maak dat ek dit baie geniet. Sy gee my moed om elke dag op te staan en te gaan oefen.”

Selfmotivering

Om jouself te motiveer is seker een van die moeilikste goed. “Ek sê vir myself , “indien jy nie vandag jou beste gee nie, gaan jy môre ook nie. So gee jou bes vandag en môre sal volg.”

Voorts sê sy, sy moes haarself aan die begin motiveer om 05:00 op te staan en te gaan oefen.

“Ek was bedags ‘n lopende lyk totdat my liggaam daaraan gewoond geraak het. Dit het sowat vier weke geduur om makliker op te staan.

Raad

Rochelle se raad is eenvoudig. “Jy moet jou kop reg kry. Stel vir jouself kort doelwitte en maak seker jy bereik dit elke keer. Glo my, jy leer uit jou foute, en week na week raak dit makliker.”

Sy sê ‘n goeie eetplan en ‘n afrigter speel ‘n groot rol. “My eetplan is nie een waar jy jouself uithonger nie, dis regtig lekker kosse.” Sy probeer om nie meer as 1200 kalorie per dag in te neem nie, maar vertel dat jy hier en daar aanpassings kan maak solank jy minimaal suiker inneem.

Uitdagings

Rochelle vertel dat hierdie vir seker ‘n groot uitdaing vir haar is.
“Ek kan wel sê dat na vyf weke makliker raak. Die uitslae wat ek tot dusver gehad het maak dit die moeite werd en gee my elke dag moed om aan te gaan.”

Sy bedank ook vir Jolene.

“Ek sou regtig nie so lank kon uithou sonder jou nie. Ek weet na die jaar, gaan ek ‘n nuwe mens wees. Jaar in en jaar uit het ek moed opgegee. Maar nie die keer nie. Jy is wonderlik.”

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief