Kaapstad reageer op moord op Karin van Aardt en veiligheidsmaatreëls naby lughawe

Lees ook :

Foto: Karin van Aardt Facebook

Veiligheidswenke en hulpmiddele kan lewens red, lees hier onder.

WES-KAAP. – Die Stad Kaapstad het die moord op Karin van Aardt in Jakes Gerwel-rylaan veroordeel en gesê dit was ’n tragiese en sinnelose daad. Die Stad werk saam met die SAPD in die ondersoek en het ’n beloning van R20 000 uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die verdagtes.

Alderman JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê aan Nuusflits veiligheidsmaatreëls word wel geneem in ‘n poging om insidente van smash-and-grab te bekamp. Hierdie maatreëls sluit CCTV-monitering van verdagte persone in endie aktivering van hulpmiddels om ondersoek in te stel waar nodig. Statiese patrollies word uitgevoer by bekende gevaarsones soos wat hulpmiddels dit toelaat. Opvoedkundige veldtogte vind ook by brandpunte plaas, om sodoende motoriste van gevaar bewus te maak.

Smith sê daar word ook data aan Google, Waze en Apple Maps voorsien om die publiek oor hoërisikogebiede te waarsku. Dié soort misdaad word as opportunisties beskou; verdagtes kan van plek verander sodat hulle nie maklik opgespoor kan word nie.

Daarbenewens is nie alle voorvalle deur CCTV of SAPD-verslae gedek nie, vanweë byvoorbeeld ‘n kamera se ligging. Alle voorvalle wat plaasvind, word ook nie by die polisie aangemeld nie. Wat ook noemenswaardig is, is dat alle inhegtenisnemings nie tot vervolging lei nie. Voorts sê Smith terwyl die Stad inhegtenisnemings maak, is die ondersoek-mandaat die SAPD s’n en slagoffers verkies soms bloot om ‘n saak terug te trek. Die Stad het aangekondig dat EPWP-fondse herprioritiseer sal word om buurtwag-patrollies by brandpunt-kruisings te ontplooi.

Op 2 Oktober 2025 is nuwe Metro-polisiebeamptes ontplooi om veiligheid langs die N2, sowel as in die lughawe- en Borcherd’s Quarry-gebiede te verbeter. Dit vorm deel van die Stad se groter veiligheidsplan en die ontplooi van 700 nuwe polisielede in wyke regoor Kaapstad. Volgens die Stad is die versterkte polisieteenwoordigheid deel van die geïntegreerde snelwegveiligheidsplan wat verskeie prioriteitsroetes, waaronder die R300, N1, N7, M3 en M5, insluit. Druk hier om meer te lees.

Elzet Nel, voorheen verbonde aan Nuusflits, het die volgende sosialemediaplasing oor Van Aardt gemaak: “Hierdie was my graad 1-juffrou. Toe ek breinvliesontsteking gehad het, en meeste van die jaar afwesig was, het sy al my klasmaatjies gekry om kaartjies te maak en briefies te skryf. Sy het dit persoonlik kom aflewer in die hospitaal. Sy het my kleindogtertjiehartjie geliefd en besonders laat voel. So sag en besorg. Mag Juffrou in vrede rus, en mag ons hierdie wreedaardige moord eendag vergewe. Wees asseblief veilig. Bel jou familie. Gee nog ‘n drukkie. Die lewe is kort.”

André Snyman, die stigter van eblockwatch, sê aan Nuusflits in Suid-Afrika praat mense graag oor ander se misdade, maar bly stil oor hul eie. Dit beteken dat misdaadpatrone ongemerk opbou en teen die tyd dat dit die nuus bereik, is dit reeds buite beheer. Snyman sê Van Aardt se geval het die land diep geraak. ’n Bejaarde vrou land by die lughawe, opgewonde om haar kleindogter vir haar verjaardag te sien. Sy kry haar trollie, haal haar bagasie af, huur ’n motor en ry uit. ’n Halfuur later is sy dood. Hierdie voorval het ’n gevoelige snaar getref en meer as 200 000 mense het die e-pos van Snyman gelees waarin die insident uiteengesit is.

Die vraag is nou: Wat doen ons daaraan?

Snyman werk onafhanklik, maar vanaf Fidelity ADT se beheerkamers waar hy toegang tot hul infrastruktuur het. Hy het ’n landwye netwerk opgebou met meer as 100 000 geregistreerde lede, gewone inwoners wat as “ligpuntjies” op ’n kaart van Suid-Afrika dien. Hierdie kaart is deel van die stelsel wat mense help wanneer hulle op die kwesbaarste is. Cyber Chaperone is eenvoudig. Wanneer iemand reis, registreer hulle hul rit op eblockwatch.co.za. Die vertrekpunt, bestemming en die benaderde aankomtyd word aangedui. As iets skeefloop of iemand nie opdaag nie, word daar opgetree. Snyman kyk dan op die kaart: Wie in my netwerk is die naaste aan hierdie persoon? Hy stuur nie boodskappe landwyd nie; hy nader net ’n klein groepie mense in die betrokke area. Sy tipiese boodskap lui: “Ek is Andre van eBlockwatch. Iemand is hier vas. Kan jy help?” Die plaaslike helpers aktiveer dan hul eie WhatsApp-groepe, buurtwagte of veiligheidsnetwerke. Indien die risiko ernstig is, word Fidelity se beheerkamers ingeskakel, kameras word gebruik waar moontlik en reaksiespanne word gestuur. Die span identifiseer selfs wie by die voertuig stop. Die doel is om die magsbalans gelyk te maak sodat die slagoffer nie weerloos is nie.

Toerisme kan nie nóg ’n vreesveldtog bekostig nie. Cyber Chaperone probeer nie reisigers bang maak nie, dit skep ’n stil veiligheidsnet op die oop pad. Sodra iemand hul huis, hul buurtwaggroep en hul gewone veiligheidskring verlaat, word Cyber Chaperone hul rugsteun-gemeenskap. Dit is hoe mense beskerm word tussen die lughawe, die snelweg en die afgeleë grondpad waar hulle andersins alleen sou staan. eBlockwatch se toestel het ’n batterylewe van ongeveer 90 dae. Die toestelletjie is ontwerp om onopvallend te wees en hoef nie met ‘n selfoon ingestel te word, of is van jou selfoonsein afhanklik nie.

Op sy beurt herinner die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) motoriste daaraan om waaksaam te wees en basiese veiligheidsmaatreëls te volg wanneer hulle reis, veral in en om hul voertuie. Volgens die polisie kan hierdie eenvoudige voorsorgmaatreëls die risiko van misdaad op die pad verminder. Motoriste word aangeraai om seker te maak dat hul voertuie in ’n goeie toestand is voordat hulle op reis gaan en om te alle tye voldoende brandstof in die tenk te hê. ‘n Motor se deure moet gesluit wees en vensters toegehou word. Moet nooit ’n voertuig ongesluit laat nie, selfs al word beplan om net ’n oomblik weg te wees.

Die polisiediens beveel aan dat motoriste nie by afgeleë plekke stilhou nie en hul voertuie in goedbeligte areas parkeer. Indien ’n vreemdeling ’n gesprek aanknoop terwyl ’n motoris in die voertuig sit, moet die venster slegs op ‘n skrefie oopgemaak word. Die SAPD sê dat motoriste, indien iets verdag voorkom, eerder moet wegtrek as om met vreemdelinge te praat.

Nagritte moet beperk word, of iemand moet saamry indien moontlik. Roetes na en van die werk kan, waar haalbaar, gewissel word. Indien ’n vreemdeling ’n motoris in ’n voertuig nader, word motoriste aangeraai om weg te ry of die toeter te druk om aandag te trek. Wanneer onbekende persone naby ’n motoris se oprit rondhang, moet die motoris eerder verbyry en die voorval by sy naaste polisiekantoor aanmeld indien die persone vir ’n lang tyd in die omgewing bly.

Die polisie waarsku voorts dat kapers soms ’n klein ongeluk kan namaak om naby voertuie en insittendes te kom. Indien ’n voertuig van agter gestamp word en die motoris voel onveilig, word aanbeveel dat hulle na die naaste polisiekantoor ry. Motoriste moenie na sakke of waardevolle items reik indien hulle bedreig word nie. ’n Lewe is meer werd as enigiets in ’n voertuig en motoriste moet nie weerstand bied nie, veral wanneer ’n wapen sigbaar is. Die polisiediens sê motoriste moet die voertuig sonder teenstand oorgee en wegbeweeg.

Die polisie beveel ook ‘n saamryklub aan wat die risiko van misdaad verminder en dat motoriste nie vreemdelinge moet oplaai nie. Die gebruik van ’n ratkas-slot word as ’n bekostigbare en doeltreffende teen-diefstalmeganisme beskryf. Indien moontlik, kan motoriste ’n spieël teen die voorste muur van ’n motorhuis aanbring om te sien of iemand hulle volg. Die polisie beklemtoon verder dat motorhuise eers oopgemaak moet word nadat die hek heeltemal gesluit het.

Indien jy jouself op een van Kaapstad se roetes bevind, het die Stad die volgende veiligheidswenke voorgestel:

Vermy dit om laat in die nag te reis indien moontlik. Misdadigers gebruik die donker en stiller paaie tot hul voordeel. Maak seker dat jou voertuig te alle tye in ’n goeie meganiese toestand is. Maak seker dat jy die nodige gereedskap en ’n noodwiel het indien jy ’n pap wiel sou kry. Beplan ’n paar ekstra minute in jou reistyd om jou bande en brandstof by ’n vulstasie te laat nagaan voordat jy ’n snelweg of groot roete gebruik. Maak seker jou selfoon is gelaai, of dat jy ’n motorlaaier het en dat jy lugtyd het om vir hulp te kan bel. Maak seker iemand naby aan jou weet presies watter roete jy ry en wanneer jy vertrek. Deel jou regstreekse ligging met iemand naby aan jou. Stoor die nommer van die Openbare Noodkommunikasiesentrum (PECC) op jou foon – 021 480 7700, vir noodgevalle. Rapporteer enigiets wat ongewoon lyk langs jou roete – selfs ander voertuie wat vasgeval of verlate voorkom. Moenie langs ’n snelweg stop om passasiers af te laai of op te laai, of om ’n oproep te maak nie.


Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief