SUID-AFRIKA. – Passasiers op die Shosholoza Meyl se Johannesburg-Kaapstad-langafstandroete moes Vrydagoggend op Wellington na busse oorgelaai word. Dit volg nadat oorhoofse kabels tussen Kraaifontein en Muldersvlei gesteel is.
Die kabeldiefstal het na bewering oornag plaasgevind. Gevolglik is passasiers se treinrit ongeveer 70 km vanaf hulle finale bestemming onderbreek.
Prasa beplan om samesprekings met Transnet en ander belanghebbendes te hou om uitdagings rakende kabeldiefstal te oorkom.
Hulle het voor die heropening van die langafstandroetes erken dat hulle steeds probleme rakende infrastruktuur en ’n tekort aan lokomotiewe het. Daar is egter klem gelê op hulle toegewydheid om ‘n veilige diens van gehalte te lewer.
Nuusflits het vroeër berig oor die heropening van die langsafstandroetes na twee jaar.
Bronne: Prasa, IOL, EWN