Dis weer tyd vir Suid-Afrika om saam te staan! Sondagoggend 9 Februarie veg Dricus du Plessis en Sean Strickland in Sydney, Australië, in die Qudos Bank-arena. Dit sal die tweede keer wees wat hierdie twee in die kryt ontmoet; die vorige keer het Dricus met punte gewen.
Die hoofkaart begin om 5:00 die oggend op DStv – UFC312.
Hulle eerste geveg wat in Kanada plaasgevind het, was ‘n baie nou betwiste stryd wat ál vyf rondtes geduur het. Alhoewel Dricus volgens al drie beoordelaars gewen het, was daar sommiges wat glo dat Strickland die wenner moes wees. Die Amerikaner is baie gewild in Australië, dus is baie ondersteuners bekommerd dat indien die geveg weer vyf rondtes duur, die beoordelaars dit hierdie keer vir Strickland mag gee.
Dricus behoort die gunsteling te wees om te wen, en hy self sê dat hy hierdie keer die geveg gaan klaarmaak nog voor die finale klok gaan lui.
Kenners voel dieselfde, want die enigste vraagteken oor hom in die eerste geveg was of sy stamina vir vyf harde rondtes kon hou. Nou dat ons weet hy kan, en dat Strickland nie soveel slaankrag het om Dricus dalk met ‘n vloekhou te kan uitslaan nie, is hulle baie gemakliker in hul voorspellings dat die Suid-Afrikaner sy titel sal behou.
Wie dink jy gaan wen, en gaan jy vroeg opstaan om dit te kyk?





