MPUMALANGA. – Die polisie ondersoek die omstandighede van ‘n voorval waarin ‘n Kanadese toeris (69) Woensdagaand in die Krugerwildtuin doodgeskiet is.
Volgens polisiewoordvoerder, kol. Mavela Masondo, het die voorval by ’n braai-piekniekterrein naby die Phabeni-hek plaasgevind en word tans ondersoek. Volgens voorlopige inligting het die toeris glo met ’n konsessie-operateur in gesprek getree wat ’n geweer by hom gehad het. Daar word beweer die man het gevra of die vuurwapen eg is, waarna die operateur dit sou demonstreer. Tydens dié proses het die geweer afgegaan en die toeris in die bolyf getref. Nooddienste het die man op die toneel dood verklaar.
Die polisie het intussen sake van strafbare manslag en roekelose hantering van ’n vuurwapen geregistreer. Ondersoeke duur voort om die presiese oorsaak van die skietvoorval vas te stel. Die polisie beklemtoon weer dat vuurwapeneienaars te alle tye verantwoordelik moet optree en die bepalings van die wet streng moet nakom.
Volgens JP Louw, SANParke-woordvoerder, het die voorval by ‘n braai-piekniekplek plaasgevind. Die oorledene was deel van ’n groep wat buite die park bespreek het en slegs die park binnegegaan het vir ’n sogenaamde bush braai wat deur ’n gelisensieerde privaat konsessie aangebied is.
SANParke het sy innige meegevoel met die oorledene se familie en geliefdes uitgespreek.





