GAUTENG. – ’n Kaptein van die beskermings- en veiligheidsdienste (PSS) is geskors nadat ’n interne ondersoek onreëlmatighede en verdagte transaksies in die finansiële afdeling aan die lig gebring het. Die ondersoek dui aan dat die lid glo sy toegang tot die finansiële stelsel misbruik het om miljoene rand vir homself te onttrek.
Brig. Athlenda Mathe sê die geld is onder die voorwendsel van reisuitgawes vir beamptes van die presidensiële beskermingsdiens (PPS) aangeteken, maar is nie aan hulle uitbetaal nie en is glo eerder in kontant deur die lid self geneem. ’n Saak van bedrog is by die Sunnyside-polisiekantoor geregistreer en die interne ondersoek het tot sy skorsing gelei.
Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris het die finansiële bestuursafdeling geprys vir die identifisering en aanspreek van misdaad binne die diens en het die anti-korrupsie-eenheid aangestel om die saak verder te ondersoek. Die polisie verseker dat streng maatreëls in plek is om te verseker dat belastingbetalers se geld korrek gebruik word en dat bedrog en korrupsie nie geduld word nie. Geen beskermers van die president, adjunkpresident, ministers of adjunkministers is by hierdie saak betrek nie.





