GAUTENG. – Bhekumuzi Mike Sandlana, die kerkleier van die Pentecost Holiness Church, wat in 19 sake van korrupsie aangekla word, se borgtogappèl is deur die Pretoria-hooggeregshof van die hand gewys. Sy vorige borgtogaansoek is in Desember 2025 afgekeur.
Lumka Mahanjana, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê die kerkleier het glo tussen 2021 en 2022 ongeveer R2,4 miljoen aan regter Portia Phahlane betaal, met die bedoeling dat sy in sy guns in ‘n siviele saak sou beslis. Die staat het voorgehou dat Sandlana sonder sy vele identiteitsdokumente in die buiteland kan reis en dus ’n vlugrisiko is. Sandlana se regspan het aangevoer dat hy nie ’n vlugrisiko is nie en dat die identiteitsdokumente slegs ‘n poging om administratiewe regstellings te probeer maak, weerspieël. Sy kerk en eienaarskap van eiendomme en sterk verbintenisse in Suid-Afrika is ook aan die hof voorgehou. Die staat het die teenargument aangevoer dat hy die misdrywe moontlik gepleeg het terwyl hy op borgtog in ’n ander saak in die Pretoria-landdroshof was.
Die saak teen Sandlana en sy vier medebeskuldigdes sal op 6 Maart in die Pretoria- gespesialiseerde kommersiële misdaadhof voortgaan.





