GAUTENG. – Portia Phahlane (57), ‘n hooggeregshofregter, en drie ander beskuldigdes, onder wie ’n leier van die International Pentecost Holiness Church, het Woensdag in die Pretoria-handelsmisdaadhof op altesaam 19 aanklagte van korrupsie verskyn. Die regter is glo tussen 2021 en 2022 ongeveer R2.4 miljoen betaal om ‘n siviele saak van Bhekumuzi Mike Sandlana (64) van die IPHC-kerk te bevoordeel.
Die Valke het die vier op 25 en 26 November, ná ‘n ondersoek wat deur die nasionale vervolgingsgesag gelei is, in hegtenis geneem.
Lumka Mahanjana sê regter Phahlane is op R50 000 borgtog vrygelaat, terwyl Kagiso Phahlane (32), haar seun, en Vusi Soli Ndala elk op R10 000 borgtog vrygelaat is. As borgvoorwaardes mag hulle nie met getuies of die ondersoek inmeng nie en moet hulle hul reisdokumente teen 28 November inhandig. Regter Phahlane mag ook nie die hooggeregshof betree totdat die hof anders beslis nie.
Die staat het nie borgtog vir regter Phahlane, haar seun of Ndala teëgestaan nie. Borgtog vir Sandlana word teëgestaan. Sy saak is vir ‘n formele borgtogaansoek is tot 3 Desember uitgestel en hy bly in aanhouding. Die saak teen die ander drie is vir verdere ondersoek tot 6 Maart 2026 uitgestel.
Sandlana se regsprobleme dateer van 2016, toe die stigter van die kerk, Glayton Modise, oorlede is en ’n stryd oor opvolging ontstaan het. Sandlana het homself as opvolger verklaar, maar dié aanspraak is deur die Modise-familie en ander kerkleiers betwis. In 2020 het ’n gewapende aanval by die IPHC-hoofkwartier in Zuurbekom vyf lewens geëis. Getuienis dui daarop dat sommige deelnemers aan die aanval moontlik in verband met Sandlana opgetree het, alhoewel dit nie bewys is nie.
Die saak het in 2021 verder geëskaleer toe Sandlana ’n vals doodsertifikaat van sy vrou, Benedicta Sandlana, ingedien het en probeer het om homself as eksekuteur van haar boedel aan te meld. Hierdie bedrogpoging het ook bates, insluitend ’n motor, ingesluit. Sy het dit uitgevind toe sy sake by ‘n bank wou doen. In dieselfde tydperk is bewerings gemaak dat Sandlana kerkbates sonder wettige toestemming na eie maatskappye oorgedra het. In Oktober 2025 het die IPHC ’n DNS‑toets versoek om bloedverwantskap te bevestig, aangesien Sandlana se aanspraak as leier steeds betwis word.
Die jongste insident met 19 aanklagte sluit beweerde korrupsie en geldwassery in. Die staat beweer dat miljoene rand gebruik is om ’n hofbeslissing oor die kerkboedel in Sandlana se guns te beïnvloed.
Bronne: NVG, SAPD, IOL, The Star, Sunday Times, Times Live, The Post



