Brekende Nuus
Afrikaans

Kinderbeskermingsweek deur polisiebeamptes en kleuters op motorfietse gevier

Ouers en kleuters is gevra om soos "bikers" aan te trek en speelgoed-motorfietse skool toe te bring.

Kinderbeskermingsweek
Foto's: SAPD

Kinderbeskermingsweek is gister 1 Junie 2023 by die Primêre Skool Tsatsi in Zamelda in die Vrystaat gevier.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê GKS en nog polisielede wat deel van ‘n motorfietsklub is, het die skool besoek.

Die polisielede het sanitêre ware, kospakkies, winterskooluniforms en skoolskoene oorhandig.

GKS-Zamdela, wat aan die voorpunt van die inisiatief staan, is deel van die groep wat verskeie skole besoek om kinders oor hul regte in te lig.

Kapt. Matsheka het met die kinders gepraat om hierdie belangrike inligting oor te dra en het klem gelê daarop dat al is omstandighede hoe moeilik, dit belangrik is om skool by te woon. Boeliegedrag, kindermishandeling en die gevaar van dwelmmisbruik is ook aangespreek.

Israel Matseke Zulu, ‘n spesiale gas, het die kinders oor die gevolge van afknouery en afwesigheid by die skool, toegespreek.

Die groep polisielede het van die skool af by die Vaal Biker’s Club aangesluit wat ‘n plaaslike crèche besoek het.

Ouers en kleuters is gevra om soos bikers aan te trek en kleuters moes hul speelgoedmotorfietse skool toe neem.

Kareli sê toe die motorfietsryers opdaag, het die kinders se gesiggies van vreugde gespreek.

“Die kinders is selfs toegelaat om met hul plastiekmotorfietsies in die straat langs die groot motorfietse te ry.”

Pamflette oor kinderregte, wat die kleinspan kon huis toe neem, is uitgedeel.

“Vandag het kinders gesien hoe polisiebeamptes, as motorfietsryers geklee, met hulle praat oor veiligheid, wat die hele narratief verander.”